Agriculture
Appel ’n dag laat dalk werklik die dokter wag─── 05:00 Tue, 01 Jul 2025

Die ou gesegde “’n Appel per dag laat die dokter wag” is nie bloot ’n ouvroustorie nie. Nuwe navorsing toon appels het beduidende gesondheidsvoordele – van hart- en dermgesondheid tot ’n verminderde risiko vir chroniese siektes.
“Appels is ’n voedingskragbron – propvol vitamiene, minerale, vesel en kragtige antioksidante,” sê Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-CapeFruit Marketing, Suid-Afrika se grootste verskaffer van appels en pere.
“Om daagliks ’n appel te eet is ’n eenvoudige, smaaklike manier om jou liggaam se veerkragtigheid te versterk.” Hy verwys na ’n studie deur die Universiteit van Perugia in Italië wat bevind het gereelde appelinname kan aan ’n laer risiko vir borskanker, longkanker en kolonkanker gekoppel word.
Hierdie bevindings, gebaseer op ’n ontleding van 41 vorige studies, dui daarop dat die flavonoïede en antioksidante in appels help om selle teen oksidatiewe stres en DNS-skade te beskerm.
’n BBC-artikel beklemtoon verder dat appels ryk is aan dieetvesel en polifenole plantverbindings wat bekend is vir hul antiinflammatoriese en antioksidatiewe eienskappe. Hierdie nutriënte bevorder spysvertering, help met gewigsbestuur en verlaag cholesterolvlakke.
Appels ondersteun boonop die dermmikrobioom, wat ’n sleutelrol speel in algehele gesondheid. Die unieke vesels in appels voed voordelige dermbakterieë, wat op hul beurt help om bloedsuiker te reguleer, inflammasie te verminder en selfs breingesondheid te bevorder.
Wetenskaplike bevestiging
Tru-Cape verwelkom die wetenskaplike bevestiging van dit wat verbruikers lankal vermoed: appels is een van die beste daaglikse keuses vir gesondheid.
“Ons is trots om deel te wees van mense se pad na ’n gesonder lewe, deur iets so eenvoudig soos die eet van ’n appel.”
Hierdie artikel is bloot ter inligting. Raadpleeg u geneesheer vir mediese advies.
OFM Agri mvh