Agriculture
Samewerkingsooreenkoms onderteken om agripreneurs op te lei─── 11:13 Tue, 01 Jul 2025

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het Maandag (30/6) ’n samewerkingsooreenkoms met die Da Vinci Instituut vir Tegnologiebestuur onderteken.
Die ooreenkoms stel ’n raamwerk vir samewerking op in verskeie strategiese gebiede, met die doel om Glen-landboukollege as ’n moderne akademiese instelling te hervorm en te versterk. Van die fokusareas sluit in handelsmerkontwikkeling, kurrikulumvernuwing, mentorskap, opleiding, navorsing, digitale toegang en administratiewe verbeterings.
LUR Elzabe Rockman meen die ooreenkoms vergestalt die beloftes wat gemaak is tydens die departement se begrotingsrede. “Hierdie inisiatief help ons om Glen as ’n instelling van keuse te ontwikkel en terselfdertyd jong boere op ’n betekenisvolle wyse te bemagtig. Ons waardeer die insette van Da Vinci en hul vennote.”
Rockman moedig jong boere aan om aktief kennis op te doen en dit te gebruik om volhoubare landbou-ondernemings op te bou.
As deel van die ooreenkoms het vyftien jong boere met ’n formele gestruktureerde geïnkubeerde entrepreneurskapontwikkelingsprogram begin. Die program sluit onder meer opleiding, besigheidsafrigting, werksessies, meestersklasse, sakevoorstelontwikkeling en voedselfeeste in.
Volgens prof. Ben Anderson van die Da Vinci Instituut is hulle opgewonde oor die samewerking. Hy beklemtoon die program fokus op die hele voedselwaardeketting en hoe tegnologie en innovasie bestuur kan word in ’n volhoubare ekostelsel. “Ons wil deelnemers verbind met markte, navorsing en nywerhede – nie net produseer om te verkoop nie, maar om slim en strategies te produseer.”
Die ooreenkoms beoog om beide instellings toe te rus met die kennis en vaardighede om ’n volhoubare akademiese en landbou-arbeidsmag te ontwikkel.