Agriculture
Regering gee eerste permit vir enting teen voëlgriep─── 07:57 Wed, 02 Jul 2025

Die departement van landbou het Maandag (30/6) sy eerste permit uitgereik vir die inenting van pluimvee teen hoogs aansteeklike voëlgriep.
Dit stel Astral Foods in staat om met ’n proefveldtog op een van sy braaikuiken-teelplase te begin.
Volgens minister John Steenhuisen is sowat 200 000 braaikuiken-teelvoëls, oftewel 5% van Astral se teelkudde, vir die eerste fase van die enting geïdentifiseer. Die kudde het ’n geraamde waarde van R35 miljoen.
Steenhuisen sê die mylpaal is die resultaat van hegte samewerking tussen die regering en die pluimveebedryf om voedselveiligheid te bevorder en bestaansmiddele te beskerm. Hy het die inenting as ’n noodsaaklike stap beskryf om kudde-immuniteit te versterk en die verwoestende ekonomiese verliese van vorige uitbrekings te voorkom.
Tydens die uitbreking in 2023 is miljoene voëls gedood, wat ernstige ontwrigting in die voorsieningsketting tot gevolg gehad het. Die entstof wat nou gebruik word, is reeds in ander lande goedgekeur vir die beheer van HPAI en teiken die H5-stam van die virus.