Click on the warning image to view this post
Agriculture
Onwettige jag met honde neem ontstellend toe─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 03 Jul 2025
Die geweldige toename in die jag van wild en ander vee is ’n toenemende probleem in die Vrystaat-, Noord-Kaap- en Noordwes-areas.
Jurg Kruger, medevoorsitter van die organisasie Eyes and Ears (E2), meen hierdie misdaad veroorsaak toenemend probleme vir landbouers.
“Grondeienaars is gefrustreerd omdat die tendens bly toeneem, die polisie nie altyd dadelik optree nie en hierdie tipe onwettige jagte juis plaasvind as die grondeienaar nie tuis is nie. Grondeienaars word dikwels ook geviktimiseer indien hulle die jagters sou aankla en gevolglik word weiding jaarliks doelbewus afgebrand.”
Persone en honde word met voertuie in die dag of nag afgelaai en dan word daar jag gemaak op absoluut alles, geen diskresie word aan die dag gelê in dié jagproses nie. Daar word veral jag gemaak op bedreigde spesies en wild.
Kruger sê hierdie onwettige jagters oortree verskeie wette soos betreding in terme van die Wet op Omheinings, die Wet op Veediefstal (ook wild, indien die eienaar kan bewys dis sy wild en nie trekwild nie), asook ander wette soos die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteit en die Wet op Bedreigde Spesies.
Die Dierebeskermingswet is ook ’n groot rolspeler. Kruger sê die DBV en natuurbewaringsbeamptes speel ’n groot rol in die bekamping van hierdie onwettige jag met honde.
Die DBV moet dikwels ingryp in onwettige jagtogte. Foto: DBV Bloemfontein
“Hulle moet dikwels toetree om beslag te lê op die honde of die beseerde diere. Die organisasie Eyes and Ears is die operasionele komponent in teenstropingsoperasies wat die polisie in hierdie gevalle aktiveer”.
Kruger sê enige persoon is geregtig daarop om burgerlike inhegtenisnemings te maak indien hulle afkom op sodanige jagters en hul honde, maar dat plaaslike sekuriteitstrukture en die polisie dadelik in kennis gestel moet word. Mense moet egter nie hulself in gevaar stel nie.
“Siviele inhegtenisnemings moet net in uiterste gevalle gedoen word en geweld moet ten alle koste vermy word. Dis altyd belangrik om video’s en foto’s van alles by so ’n toneel te neem, insluitend voertuie, ligging, persone, honde en enige ander inligting van belang.”
Wrede praktyk
Lucky Oliphant, inspekteur by die DBV Bloemfontein, sê dat onwettige jag met honde ’n groot probleem in die Vrystaat bly en dat hulle gereeld uitgeroep word na sulke gevalle.
“Uiteindelik is dit ’n duur proses om op hierdie honde beslag te lê, aangesien die honde dikwels beseer, ondervoed en mishandel, asook vol vlooie en bosluise is. Die DBV het ander onkostes in hierdie sake, soos brandstofuitgawes, veeartse en kos om die honde te versorg, totdat ’n hofsaak uiteindelik plaasvind.”
Oliphant meen dis ’n wrede praktyk en dat daar heelwat wette oortree word met hierdie jagmetode. Hy doen ’n beroep op enigiemand wat weet van persone wat hierdie praktyk beoefen om hulle dadelik in kennis te stel.
OFM Agri/Isabel van Tonder mvh/cg