Agriculture
BKS: Dr Peter Evans lei RMIS-reaksie; Oos-Kaap en Limpopo-beperkings opgehef─── 09:00 Sat, 05 Jul 2025

Dr. Peter Evans is aangestel as hoofveearts van die Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se Operasionele Sentrum, waar hy leiding sal neem oor die werkgroep vir bek-en-klouseer (BKS).
Hy is deur die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAPPO) beskikbaar gestel en bring omvattende ervaring in siektebeheer, biosekuriteit en waardekettingkoördinering.
“Ek het by SAPPO begin werk toe PRRS – ’n ander buitelandse virussiekte – varke in Suid-Afrika bedreig het. Ons het dit suksesvol uitgeroei, en sedertdien fokus ek op strategieë om siekterisiko’s plaaslik en internasionaal te verminder. Die RMIS-span het reeds veel bereik, en ek sien uit daarna om deel te wees van hierdie spanpoging.”
Gestruktureerde reaksieplan vir BKS
Dewald Olivier, die uitvoerende hoof van, RMIS, sê Evans se ervaring sal help om ’n gestruktureerde reaksieplan vir BKS te finaliseer, wat later vandeesmaand by ’n nasionale imbizo aan die departement van landbou voorgelê sal word. Dié plan is reeds vir insette aan belanghebbendes gestuur.
Intussen het die departement bevestig die BKS-uitbrekings in die Oos-Kaap en Limpopo is suksesvol ingeperk. Beperkings op dierevervoer in dié siektebestuursgebiede is opgehef ná grootskaalse inentingsveldtogte en geen nuwe gevalle die afgelope maande nie. Beheerde plase in die Oos-Kaap bly onder streng monitering totdat alle na-inentingstoetse afgehandel is. KwaZulu-Natal bly ’n beheerde gebied.
“Hierdie vordering wys wat moontlik is wanneer regering en bedryf saamwerk. As ons gefokus bly, kan dit ’n keerpunt wees in die hantering van dié uitbreking en toekomstige voorbereidheid,” sê Olivier.
OFM Agri cg