Agriculture
Agri SA verwelkom opheffing van BKS-beheer in Oos-Kaap, Limpopo─── 07:45 Mon, 07 Jul 2025

AgriSA meen die opheffing van die bek-en klouseer siektebeheergebiede in die Oos-Kaap en Limpopo is ’n beduidende mylpaal in Suid-Afrika se voortgesette pogings om die siekte te beheer en uit te roei.
Die organisasie vertel in’n verklaring dié stap volg op suksesvolle inperkingsmaatreëls, wat die effektiwiteit van gekoördineerde private en publieke dieregesondheidsprogramme weerspieël.
AgriSA beklemtoon die belangrikheid van biosekuriteit as ’n kollektiewe verantwoordelikheid. “Voorkoming en beheer van bek-en-klouseer vereis kollektiewe pogings en waaksaamheid van alle sektore van die samelewing. Ons gee graag erkenning aan die toegewyde werk van veeartsenykundige spanne, georganiseerde landbou, industrie-organisasies, en boere,” sê Agri SA se hoof uitvoerende beampte, Johann Kotzé.
Hou biosekuriteitsmaatreëls vol
“Ons doen ’n beroep op alle rolspelers in die bedryf en Suid-Afrikaners wat met lewende hawe omgaan, om biosekuriteitsmaatreëls vol te hou om ons vee te beskerm, ons ekonomie te ondersteun, en voedselsekerheid te verseker.”
In die Oos-Kaap is ’n siektebeheergebied sedert Julie 2024 in plek. Inentingspogings, tesame met uitgebreide serologiese toesig, het bevestig dat daar geen onopgespoorde gevalle van bek-en-klouseer oorbly nie. Gevolglik is die bewegingsbeperkings wat voorheen van krag was, opgehef, wat die weg baan vir veiliger veebeweging en vertroue onder boere en belanghebbendes verhoog.
Die departement van landbou het egter aangedui ’n totaal van 76 plase in die Oos-Kaap, waar besmettings en/of inentings was, onder kwarantyn sal bly. Bewegingbeperkings sal op hierdie plase bly totdat toetsing die afwesigheid van virusvertakking bevestig. Toetsing gaan 12 maande ná die inenting op die plase begin.
Inperkingsdoelwitte bereik
Verder is besluit melk van kwarantynplase, wat aan die plaaslike mark gelewer word, slegs enkele pasteurisasie, in plaas van dubbele pasteurisasie, moet ondergaan.
In Limpopo, waar die siektebeheergebied in September 2022 ingestel is, is inperkingsdoelwitte ook bereik. “Die departement het aangedui hulle is tevrede dat die virus ten volle onder beheer is.”
Verder het die departement ook aangedui die bestuursgebied in KwaZulu-Natal is steeds in plek met enkele uitbrekings wat buite die gebied opgespoor is. “’n Slagpale in die Vryheid-gebied is aangewys om diere van plase onder kwarantyn te slag. ’n Stelsel is in plek gestel om die vlak van biosekuriteit op individuele plase te beoordeel.”