Agriculture
Gevaarligte flikker oor opgradering van Vaalputs-kernafvalfasiliteit─── 07:44 Tue, 08 Jul 2025

TLU SA in die Noord-Kaap het ernstige kommer uitgespreek oor die beplande opgradering van die Vaalputs-kernafvalfasiliteit in die hart van ’n strategiese landbougebied.
Volgens Jan Palm, voorsitter van TLU SA Noord-Kaap, is Vaalputs geleë in ’n strategies-belangrike gebied vir volhoubare veeboerdery en droëlandproduksie. “Enige besoedeling van grond, lug of water, hetsy tans of in die toekoms, kan die aanvaarding van voedselprodukte uit die streek negatief beïnvloed.”
Die organisasie beklemtoon ook Namakwaland is ’n unieke en ekologies-sensitiewe streek, wêreldbekend vir sy biodiversiteit en toerismewaarde. “ ’n Uitbreiding van die fasiliteit verhoog die risiko van omgewingskade wat nie maklik omgekeer kan word nie.”
Gebrek aan deursigtigheid, openbare deelname
TLU SA meld verder ’n gebrek aan deursigtigheid en openbare deelname. “Grondeienaars, landbouverenigings en plaaslike gemeenskappe is nie behoorlik geraadpleeg nie. Belanghebbendes het nie toegang tot risiko-analises, beplanningsdokumente of alternatiewe voorstelle nie.”
Die teenwoordigheid van ’n kernafvalfasiliteit kan volgens die verklaring ook plaaslike ontwikkeling, toerismebeleggings en grondwaardes nadelig raak – met negatiewe gevolge vir werkskepping en ekonomiese groei.
TLU SA doen ’n beroep op die owerhede en verantwoordelike entiteite om die proses dringend te heroorweeg, onafhanklike omgewingsimpakstudies bekend te maak en ’n betekenisvolle openbare deelnameproses te begin. “Ons sal nie toekyk hoe die volhoubare toekoms van Namakwaland stilweg in gevaar gestel word nie. Vaalputs mag nie ’n kompromie word wat ons kinders se erfenis vernietig nie.”
OFM Agri cg