On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA, AgriSA verwelkom landboubegroting

───   07:34 Thu, 10 Jul 2025

Graan SA, AgriSA verwelkom landboubegroting   | News Article
Tobias Doyer, Graan SA HUB. Foto: OFM

Graan SA en Agri SA het die 2025/26-landboubegroting verwelkom, maar waarsku teen gesubsidieerde invoer en die gebrek aan oplossings vir knelpunte soos oesversekering.

Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die herfokus van die departement uitsluitlik op landbou skep ’n belangrike geleentheid vir doelgerigte implementering. “Die begrotingsrede weerspieël ’n meer praktiese en strategiese beleidsrigting wat, indien reg geïmplementeer, ’n betekenisvolle impak op grondvlak kan hê.”

Hy sê in ’n verklaring Graan SA is veral tevrede met minister John Steenhuisen se prioritisering van biosekuriteit. “Die stigting van ’n Biosekuriteitsraad en investering in veegesondheid ondersteun nie net plaaslike produksie nie, maar beskerm ook uitvoermarkte. Biosekuriteit in die veesektor het ’n direkte impak op die graan- en oliesaadbedryf, gegewe die bedryf se rol in dierevoeding.”

Doyer waarsku egter dat stygende volumes gesubsidieerde invoer plaaslike koringprodusente bedreig. “Ons kan nie meeding teen goedkoop invoer sonder daadwerklike beskermingsmaatreëls nie. Dit is ’n beleidsaspek wat dringend aandag verg.


Hoewel Graan SA die minister se fokus op klimaatsverandering en volhoubare landbou verwelkom, meen Doyer dit is teleurstellend dat oesversekering nie in die begroting bespreek is nie. “Bekostigbare en toeganklike versekeringsprodukte is ’n hoeksteen van klimaatsaanpassing en noodsaaklik om mededingend te bly teenoor lande met staatsondersteunde versekeringskemas.”

Doyer sê ook die beoogde wetgewingsveranderinge – soos aan Wet 36 van 1947 – word ondersteun, mits dit toegang tot innoverende tegnologie versnel én bestaande insette beskerm. “Die ontwikkelings van ’n regulatoriese raamwerk vir nuwe veeteeltmetodes is van kardinale belang vir Suid-Afrika se genetiese mededingendheid.”

Intussen sê AgriSA se hoof-uitvoerende beampte, Johann Kotzé, die minister se begrotingsrede weerspieël ’n duidelike begrip van landbou se huidige uitdagings. “Wanneer jy hoor waarop die minister fokus, kan jy hoor dat hy in voeling is met wat in georganiseerde landbou aangaan. Dit is op hierdie stadium die brandpunte vir ons.”

Hy sê AgriSA is tevrede met die begroting, veral oor hoe daar geluister word na die sektor. “Wat vir my geweldig belangrik is van georganiseerde landbou se kant af, is dat ons voel ons word gehoor. Waar ons penetreer en bydra, word daar geluister en is daar ’n behoefte om saam uitkomste te vind.”

Volgens Kotzé spreek die minister selfs moeilike en komplekse kwessies soos biosekuriteit aan. “Dis nie ’n maklike konsep om te bestuur nie, maar die minister is bereid om daaroor te praat, te luister, en na nuwe maniere te dink om oplossings te kry. Dit is vir ons positief.”

“Ons is positief. Ja, ons kan kritiek lewer, maar ek dink ons is op pad vorentoe. Die fokusareas is presies waar georganiseerde landbou se prioriteite lê.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.