Agriculture
Minister George sluit G20-omgewingsvergadering af met bekendstelling van Pangolin-Pact teen wildmisdaad─── 06:00 Mon, 21 Jul 2025

Dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, het die tweede tegniese G20-vergadering se Werkgroep vir Omgewings- en Klimaatvolhoubaarheid (ECSWG) afgesluit met die bekendstelling van sy G20-nalatingsprojek, die Pangolin Pact.
Die veldtog fokus op bewusmaking oor natuur- of wildmisdaad en hoe Suid-Afrika, saam met ander G20-lande, die onwettige handel in spesies soos perlemoen, ietermago’s, renosters en leeus beveg.
“In die hart van die veldtog is ’n klein, maar dapper figuur: Paballo die ietermago,” het George gesê. “In Sesotho beteken ‘Paballo’ om te sorg of te beskerm.” Hierdie bewusmakingsveldtog is deel van Suid-Afrika se Nasionale Geïntegreerde Strategie om Wildsmokkelary te Bekamp, wat in 2023 deur die kabinet goedgekeur is.
Paballo sal later vanjaar 20 skole in Kaapstad besoek – dieselfde stad waar die derde G20-werkgroepvergadering in Oktober gehou sal word. Deur stories, speletjies en aktiwiteitspakkies sal kinders bewus gemaak word van die gevare wat natuurlewe in die gesig staar.
Tydens die afsluiting het George ook die wenners van die G20-skole-opstelkompetisie aangekondig. Graad 6- en 7-leerders van 20 skole in Bushbuckridge is genooi om hul sienings te deel oor Suid-Afrika se omgewingsuitdagings en die rol van die G20.
Die wenner was Gladrose Ndlovu van Welverdiend Laerskool, wat ’n kragtige gedig oor waterskaarste geskryf het en R45 000 vir haar skool gewen het. Die eerste naaswenners, leerders van Homuzeya Laerskool, het R35 000 gewen vir hul deeglike aanbieding oor besoedeling en grondagteruitgang. Die tweede naaswenners, van Mtembeni Laerskool, het R20 000 gewen vir hul insiggewende bespreking oor internasionale samewerking om omgewingsbedreigings die hoof te bied.
“Dat ons op Mandela-dag hier vergader, gee ekstra betekenis aan hierdie oomblik,” het George gesê. “Die drie skole se aanbiedings is nie bloot simbolies nie – dit is ’n kragtige herinnering aan die belang van gesprek tussen geslagte.”
OFM Agri cg