On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

‘Nou of nooit’ – RMIS eis dringende optrede tydens BKS-indaba

───   20:07 Mon, 21 Jul 2025

‘Nou of nooit’ – RMIS eis dringende optrede tydens BKS-indaba | News Article
Dewald Olivier by die BKS-Indaba. Foto: RMIS

“Ons kan nie langer voortgaan soos voorheen nie.” Só het Dewald Olivier, uitvoerende hoof van Red Meat Industry Services (RMIS), vandag by die nasionale bek-en-klouseer-indaba in Pretoria gewaarsku.

Hy het die huidige stelsel van biosekuriteit en siektebeheer as onvolhoubaar en skadelik vir die rooivleiswaardeketting beskryf – en uiteindelik, ’n bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Olivier het gepleit vir die dringende vervanging van verouderde raamwerke met ’n wetenskaplike, internasionaal geloofwaardige stelsel. “Hierdie indaba moet ’n keerpunt wees. Ons samekoms is ’n gedeelde erkenning dat ons nie meer op ou gewoontes kan steun nie.”

Hy het ’n strategiese plan bekendgestel wat deur RMIS en sleutelbelanghebbendes in die bedryf ontwikkel is. Die plan sluit onder meer in:

  • herstel van veeartsenykundige kapasiteit;
  • diversifisering van entstofproduksie;
  • versterking van naspeurbaarheid deur ’n nasionale diere-identifikasiestelsel; en
  • Streeksgebaseerde keuses oor BKS-inenting.

Die plan is inklusief van alle lewendehawebedrywe en strook met internasionale standaarde, insluitend dié van die Wêreldorganisasie vir Dieresondheid.


Olivier het minister John Steenhuisen se ondersteuning vir regionalisering, entstof-medefinansiering en infrastruktuurontwikkeling verwelkom, maar aangedring op die onmiddellike stigting van ’n gesamentlike regering–bedryf-afvaardiging. 

“Hierdie afvaardiging mag nie simbolies wees nie. Dit moet bemagtig, aanspreeklik en daadwerklik wees – en binne dae lewer, nie jare nie.”

Hy het bevestig die rooivleisbedryf is gereed om:

  • entstofverkryging te medefinansier;
  • in naspeurbaarheidsinfrastruktuur te belê;
  • dataplatforms te ondersteun; en
  • veeartsenykundige kapasiteit te help bou.

“Hierdie indaba kan nie nóg ’n rondetafelgesprek wees nie. Dit moet die begin wees van iets tasbaar – ’n pad vorentoe wat duidelikheid, stabiliteit en hoop bring aan elke rolspeler in die bedryf. Kom ons bou saam ’n nuwe fondament vir biosekuriteit, handel en volhoubare welvaart – vir almal, maar bowenal vir Suid-Afrika.”

Belanghebbendes by die strategie sluit in: RPO, SAFA, RMAA, MPO, MilkSA, Nalfa-SA, SAFLA/APAC, AgriSA, GraanSA, WRSA, NWGA, Cape Wools, Mohair SA, RuVASA, AFASA, SAVA Wildlife Group, SAPPO, TLU SA, LRF, Stamboek en Kwanalu.

OFM Agri/Verklaring cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.