On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

TLU verwerp valse aantygings teen boere

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 22 Jul 2025

TLU verwerp valse aantygings teen boere | News Article
TLU SA verwerp valse aantygings teen boere.

Die aanvaarding van die gesamentlike verslag van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Plaasaanvalle word gedeeltelik deur TLU verwerp.

“Die gesamentlike verslag van die Parmentêre Portefeuljekomitees oor Plaasaanvalle word gedeeltelik positief aanvaar, maar daar is ruimte vir verdere gesprekvoering,” volgens Bennie van Zyl, Hoofbestuurder van TLU SA. 

Aanbevelings wat gemaak is oor plaasveiligheid word ondersteun, en veral die voorstel dat spesialis-eenhede vir plattelandse veiligheid versterk moet word. 

Die gedeelte wat egter ten sterkste verwerp en nie aanvaar word nie, is die ongegronde en veralgemeende beskuldigings teen boere wat betref plaaswerkers. Boere word beskuldig van menseregteskendings soos intimidasie, vernedering en mishandeling. 

Volgens van Zyl is hierdie stellings nie net onwaar nie, maar dra by tot ’n gevaarlike narratief wat skade doen aan verhoudinge in landelike gemeenskappe en bydra tot verdere polarisasie.

‘Boere en plaaswerkers is in ’n vennootskapsverhouding’

Volgens TLU SA is boere en plaaswerkers in ’n vennootskapsverhouding, die een is afhanklik van die ander vir volhoubaarheid van die plaas en die toekoms van hulle gesinne. “TLU SA verwerp hierdie insinuasies met alles waaroor ons beskik, daar bestaan geen bewyse dat mishandeling van plaaswerkers ’n algemene praktyk is nie,” sê Van Zyl.

TLU SA se lede streef oor die algemeen na regverdige en respekvolle werksverhoudinge. Die departement van arbeid besoek ook gereeld plase, werkers het toegang tot selfone, regskennis en meganismes om onreg aan te meld.  Dit moet ingevolge wetgewing hanteer word.


TLU SA is ook gekant teen die veronderstelling dat plaasaanvalle  -en moorde ’n reaksie is van hoe boere hul werkers behandel. Hierdie aantygings verskuif die aandag van die ware misdade, dikwels vooraf beplan en buitengewoon wreed en gewelddadig.

“Ons ondersteun enige pogings wat werklik plaasveiligheid wil verbeter en die kwesbaarheid van alle inwoners in landelike gebiede aanspreek, insluitend plaaswerkers, kleinskaalse boerderye en ander gemeenskapslede, maar dit moet gedoen word sonder politieke agendas en verdagmakery,” sê Van Zyl.

TLU SA sal voortgaan om konstruktief saam te werk met enige strukture wat werklik die veiligheid en welstand van boere, hul werkers en landelike gemeenskappe op die hart dra.

Die versoek van TLU SA aan die Parlement is dat toekomstige verslagdoening en aanbevelings alle betrokkenes met gelyke maat en verantwoordelikheid hanteer, sonder insinuasies of diskriminerende ondertone teen boere.

OFM Agri/Isabel van Tonder cg


















@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.