Agriculture
SA stoetgenetika weer op wêreldtoneel met uitvoer na Paraguay─── 05:00 Tue, 29 Jul 2025

’n Belangrike deurbraak in die uitvoer van Suid-Afrikaanse grootveegenetika is behaal met die suksesvolle versending van 326 in vivo bees-embrio’s na Paraguay.
Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is hierdie mylpaal die resultaat van maande lange samewerking tussen die Nasionale Genetika Uitvoeradvieskomitee (NGEAC), ’n RPO-subkomitee, en die Direktoraat Dieregesondheid by die Departement van Landbou. Dié sukses kom ná jare van beperkings weens die bek-en-klouseer-uitbreking van 2021.
Paraguayse Bonsmaratelers het reeds in 2023 Suid-Afrikaanse embriosentrums besoek en skenkerkoeie volgens streng genetiese kriteria gekies. Die koeie is met manlike semen gespoel, met die oog op die vestiging van sterker bullyne.
Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO, sê die organisasie is tevrede met die uitkoms van die NGEAC se werk onder leiding van dr. Pierre van Rooyen. “Ons sien nou die vrugte van volgehoue werk.”
Van Rooyen, voormalige hoof van SA Stamboek, sê Suid-Afrikaanse genetika – veral van inheemse rasse – is in aanvraag van Oos-Europa tot Suid-Amerika. Die NGEAC is gestig om uitvoerprotokolle te herstel ná die bek-en-klouseer-krisis en fokus tans op lande soos Paraguay, Namibië en Brasilië.
“Hierdie is ’n ekonomiese hupstoot vir stoettelers en ’n bewys van die waarde van volgehoue genetiese verbetering. Die pad is nou oop vir verdere uitvoer.”
OFM Agri cg