Agriculture
Tariefontsteltenis en biosekerheid demp landbou se vreugde oor rentekoersnuus─── 07:58 Fri, 01 Aug 2025

Hoewel die Reserwebank se rentekoersbesluit op 31 Julie deur die landbousektor as welkome verligting beskou word, is die reaksie oorwegend versigtig weens kommerwekkende handelsvooruitsigte en voortdurende biosekerheidsuitdagings.
Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Kommersieel, sê die sektor word steeds geteister deur onsekerheid oor die 30%-tariefbeleid wat op al Suid-Afrika se uitvoer na die VSA van toepassing kan wees.
“Hierdie moontlike tarief, waarvan die sperdatum vinnig nader kom, dreig om die winsgewendheid van verskeie nywerhede ernstig te ondermyn, veral sitrus, makadamianeute en ander uitvoervrugte uit die Wes- en Noord-Kaap.”
Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Kommersieel. Foto: FNB
Hoewel die sektor se vooruitsigte steeds positief is danksy gunstige produksietoestande, word boere se optimisme getemper deur die impak van bek-en-klouseer en ander biosekerheidskwessies, asook die dreigende verlies aan toegang tot sleutelmarkte.
Die rentekoersbesluit bring egter korttermynverligting vir produsente wat steeds herstel van die ernstige droogte van 2024. “ ’n Laer skuldlas help boere om hul finansiële situasie te laat stabiliseer ná winserosie in sleutelbedrywe.”
Volgens hom het totale landbouskuld oor die afgelope dekade met 67% gestyg, met ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 5,8%. Die rentekoersverligting dra nou by tot ’n herstel in kapitaalinvestering en verbeterde produksievlakke.
“Nietemin kan hierdie positiewe effek maklik oorskadu word indien geen gunstige handelsreëling met die VSA getref word nie. Sonder marktoegang kan daar ernstige finansiële verliese en werkverlies in uitvoergeoriënteerde bedrywe volg.”
Makube waarsku verder dat die styging in vleispryse weens bek-en-klouseer druk op algemene inflasie uitoefen, wat weer produksiekoste verhoog en winsgrense in die komende ses maande verder onder druk kan plaas.
“Landbou het die vermoë om te herstel, maar duidelikheid oor tariewe, doeltreffende biosekerheid en toegang tot buitelandse markte bly noodsaaklik om volgehoue groei te verseker.”