On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Sekerheidsbedryf ‘n onmisbare skakel in landbou

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 05 Aug 2025

Sekerheidsbedryf ‘n onmisbare skakel in landbou | News Article
Die sekerheidsbedryf speel ’n belangrike rol in die landbou. Foto verskaf

In ‘n land soos Suid-Afrika, waar plattelandse misdaad en plaasaanvalle ‘n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit inhou, is die sekerheidsbedryf deurslaggewend in die beskerming van boere, hul werkers en produksie.

Die sekerheidsbedryf is ‘n belangrike bondgenoot vir boere in ‘n land waar plaasmisdaad ‘n werklikheid is. Misdaad op plase kan produksie ontwrig, wat ‘n regstreekse uitwerking het op die beskikbaarheid van voedsel vir die land.

“Sekuriteitsdienste verseker dat boere op hul kernbesigheid kan konsentreer asook die produksie van voedsel terwyl sekuriteit ‘n wakende oog hou,” sê Abri Ferreira, besturende direkteur van Alert Patrol op Oudtshoorn.

Private sekerheidsdienste is daagliks besig met patrollies, kamerastelsels, alarmstelsels en vinnige reaksie.  Hulle verstaan die unieke uitdagings en behoeftes van die landelike gebiede. Dis ‘n kombinasie van tegnologie en taktiese teenwoordigheid wat die verskil maak.


Ferreira beklemtoon ’n behoorlike risikoanalise van die plaas moet gedoen word sodat elke boer weet waar die hoogste risiko vir misdaad is. “Daar is ‘n groeiende vennootskap tussen die sekerheidsbedryf, die polisie en landelike forums. Sekuriteitspanne werk nóú saam met die polisie om inligting te deel, verdagte aktiwiteite te rapporteer en vinniger te reageer,” sê Ferreira.

Boere se rol in eie plaasveiligheid

Boere is die eerste verdedigingslinie. Daar moet aktief deelgeneem word aan veiligheidstrukture. Sekuriteitsmaatreëls soos hekke, kameras en selfs hommeltuie moet aangewend word. In baie gevalle is boere goed opgelei in noodreaksie en kommunikasie met bure in ’n sterk gemeenskapsnetwerk. Die rol wat ‘n sekerheidsmaatskappy in hierdie beveiliging speel, mag nie onderskat word nie.


Die grootste probleem in die Oudtshoorn-omgewing is “verediefstal”, sê Ferreira. Volstruise se wit vere, wat die duurste is, word snags uitgepluk deur veediewe en die voëls word selfs doodgeslaan om daarby uit te kom. Broeikampe word ook snags met kameras en wagte opgepas omdat volstruiseiers gesteel word.

Volstruise word opgepas om "verediefstal" te verhoed. Foto verskaf

Die wetsontwerp op sekerheidsdienste bring egter onsekerheid. “Strenger regulasies beteken langer lisensieprosesse, meer opleiding en moontlike kosteverhogings vir sekerheidsfirmas. Dit kan sekere dienslewering beïnvloed, veral in afgeleë gebiede.  

“Interessant is dat die sluitingsdatum vir besware teen die wetsontwerp einde April (was). Daar is 10 000 geregistreerde sekerheidsmaatskappye in Suid-Afrika en meer as 60 000 besware is aangeteken. Dit wys dat die publiek ook deel was van dié proses. 

“Die goeie nuus is egter dat daar ‘n kans is vir ‘n meer professionele en verantwoordbare bedryf, mits die implementering billik geskied,” sê Ferreira.

‘n Veilige plaas is ‘n produktiewe plaas. As sekuriteit in die beplanningsfase ingesluit word kan boere hulle risiko’s verlaag en opbrengste verhoog.  In ‘n tyd waar misdaad slimmer raak, moet landbou sekuriteit ook slimmer wees met ‘n allesomvattende strategie.

Isabel van Tonder/OFM Agri mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.