Agriculture
Nuwe, heel kleinste ras hoendertjies nou in SA gevestig─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 11 Aug 2025

‘n Nuwe ras hoendertjies, die kleinste onder dié pluimvee in die wêreld, word in Suid-Afrika gevestig.
Die American Seramas het oulike persoonlikhede en is baie goeie troeteldiere vir mense wat in stede bly, sê Zandri Erasmus van Bloemfontein. Sy is ‘n teler van die ras en het besluit om dit in Suid-Afrika te vestig.
Die American Seramas is die kleinste hoenderras in die wêreld en elk van dié geveerdes weeg minder as 500 g. Die ras het eers bekend gestaan as Malaysian Serama.
Daar is ‘n duidelike verskil tussen die Seramas en ander hoenders, en dit is reeds sigbaar in hul regop houding, asof hulle op aandag staan soos soldaatjies. Hul sterte is ook besonders kenmerkend en maak van bo na na onder oop om in ‘n omgekeerde “V” te vorm.
Die hoenderras is so 25 jaar gelede in Amerika begin en is baie gewild. Die Suid-Afrikaanse Soft Feather Serama-klub is verlede jaar gestig met slegs sewe lede, en tans is daar 19. Die Serama-ras word ook toenemend gewild. Verlede jaar is slegs nege hoendertjies by die SA Kampioenskap geskou teenoor vanjaar se 25.
Die Suid-Afrikaanse Soft Feather Serama-klub is verlede jaar gestig. Foto verskaf
”Daar is verskillende kriteria waaraan die Serama-hoendertjies moet voldoen. Hulle word vooraf afgerig en op ‘n tafel vertoon. Hulle is veronderstel om te loop en pronk en hul vlerkies te klap as ‘n mens hande klap. As ‘n mens fluit moet hulle soos ’n standbeeld gaan staan en kraai,” sê Erasmus.
‘n Serama-hoendertjie met die naam Kanniedood. Foto verskaf
Daar word tans ‘n genepoel geskep uit Duitse, Belgiese en Amerikaanse lyne.
Die ras het in twee jaar groot vordering gemaak en daar word beplan om volgende jaar aan die eerste SA Soft Feather American Prestige-skou deel te neem.
Enigiemand wat belangstel in dié ras kan Erasmus by 0726091590 kontak.