On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Grenskrisis vererger: Gerugte oor militêre opleiding maak boere vreesbevange

───   06:00 Mon, 04 Aug 2025

Grenskrisis vererger: Gerugte oor militêre opleiding maak boere vreesbevange  | News Article
Boere aan die grens ly reeds onder ernstige veediefstal. Foto: Vrystaat Landbou/Facebook

Vrystaat Landbou waarsku teen wetteloosheid en gebrek aan staatsoptrede aan die Lesotho-grens.

Gerugte dat burgers van Lesotho glo militêre opleiding op Vrystaatse plase ontvang, het nuwe vrese laat ontstaan oor die reeds brose veiligheidstoestand aan die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. Boere aan die grens ly reeds onder ernstige veediefstal, onwettige beweiding, brandstigting en selfs fisieke aanvalle. Nou dui bronne uit Lesotho daarop dat daar opleidingskampe in die Vrystaat bestaan waar militêre opleiding plaasvind.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsontleder van Vrystaat Landbou, het die aantal kommersiële boere in die grensgebied die afgelope dekade dramaties afgeneem – van sowat 300 tot moontlik minder as 100. “Baie boere het hul plase reeds verkoop of verhuur omdat dit eenvoudig nie meer finansieel haalbaar is om daar te boer nie.”

Boere beweer ook dat diere vanuit Lesotho onwettig die land binnegedryf word, op Vrystaatse grond wei en selfs onregmatig gebrandmerk word voordat dit in markte soos Gauteng en Bloemfontein verkoop word. “Dis ’n sekuriteitsnagmerrie.”

Buys meen die staat versuim om selfs die mees basiese elemente van sy eie veiligheidsstrategie toe te pas. “In die grensgebied is die weermag verantwoordelik vir grensbeskerming, maar die aanspreek van misdaad val steeds onder die polisie. Geen van die twee strukture vervul hul mandaat nie.”

Sy wys daarop dat daar geen gereelde plaasbesoeke is om eienaars, inwoners of werkers te identifiseer nie – ’n  kritieke stap vir profilering en voorkoming van misdaad. Daar is ook geen bewusmakingsveldtogte oor die aard en oorsprong van toenemende misdaadpatrone nie en basiese sigbare teenwoordigheid – soos patrollies met blou of wit ligte – ontbreek geheel en al.


Buys sê grensdiefstalforums en samewerking tussen die weermag en polisie is wanfunksioneel. “As hierdie elemente nie eens plaasvind nie, hoe kan owerhede dan beweer dat hulle bewus is van wat aan die gang is?”

’n Verdere bron van kommer is die opkoms van inisiasieskole in die Vrystaat se grensgebiede – veral gedurende die winter en somer. Hoewel Buys beklemtoon dat nie alle inisiasieskole verdag is nie, waarsku sy dat hierdie strukture indien dit nie deeglik gemonitor en gereguleer word nie, moontlik as ’n dekmantel vir militêre opleiding kan dien.

“Ons weet nie of hierdie opleiding werklik plaasvind nie, maar die feit bly staan – as die owerhede hul pligte nakom, sou hulle dit geweet het. Die feit dat hulle daarvan onbewus is, is presies wat die probleem is.”

Vrystaat Landbou sê die regering moet dringend die toepasbaarheid van sy eie strategieë herevalueer, strukture aktiveer en werklike teenwoordigheid op die grond verseker om die grensgebied teen destabilisering en misdadigheid te beskerm.

OFM Agri/Johan Gunter dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.