On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Graanmark: Diskonto’s en graderingsverskille druk witmieliepryse

───   10:36 Wed, 06 Aug 2025

Graanmark: Diskonto’s en graderingsverskille druk witmieliepryse | News Article
Foto ter illustrasie: Getty Images

Plaaslike graanmarkte toon tans merkwaardige bewegings, met witmieliepryse wat die meeste onder druk verkeer.

Volgens AMT-ontleder dr. Johnny van der Merwe het die spotprys van witmielies week-op-week gedaal na R4 680/ton, ondanks ’n klein styging op Dinsdag. 

Die Julie 2026-kontrak staan op R4 260/ton.

  • Geelmielies het effens beter vertoon, met die spotprys op R4 022/ton en die Julie 2026-kontrak op R4 010/ton. Pryse het ondersteuning gevind rondom die R4 000-vlak.
  • Die sojaboonspotprys het redelik sterk herstel en staan tans op R7 315/ton, met die Mei 2026-kontrak op R7 500/ton. Sonneblom het ook versterk tot R9 960/ton, met skerp styging veral op Dinsdag. Die Mei 2026-kontrak beweeg sywaarts op R9 141/ton.
  • Koring se spotprys het lig gestyg tot R6 720/ton. Die Desember 2025-kontrak is op R6 350/ton. Internasionale druk en plaaslike strooptyd kan egter daartoe lei dat pryse weer daal.

WM1-tekorte en diskonto’s hou witmieliemark in spanning

Die primêre drywer agter witmieliepryse is tans ’n tekort aan graad 1-witmielies (WM1). Slegs 62% van witmielies wat die afgelope week gelewer is, het as WM1 gegradeer – ’n afname van 98% teen dieselfde tyd verlede jaar. 

Hoewel die totale oes groter is, is daar 24% minder WM1 beskikbaar, relatief tot 2024. Hierdie tekort lei tot hoë diskonto’s op graad 2’s (WM2) en 3’s, wat wesenlik verskil van streek tot streek. 

Verwagtinge is dat meer WM2 uitgevoer sal word na buurlande soos Zimbabwe, wat ’n bykomende invloed op die WM1-vraag en -pryse het. Druk op WM1-pryse kan daartoe lei dat diskonto’s verminder, mits marktoestande stabiliseer.

Internasionaal: Pryse steeds onder druk

In die VSA bly mielie- en sojaboonpryse onder druk weens groot oeste. Mielie-uitvoere is egter die tweede hoogste in die geskiedenis, wat dui op goeie internasionale vraag. 

Die sojaboonmark is meer gespanne, met geen nuwe uitvoerbestellings na China vir die komende seisoen nie – ’n punt van kommer vir Amerikaanse ontleders.

Ongeveer 40% van die VSA se sojaboonoes moet uitgevoer word. Reënval en siektegevare kan moontlike risiko’s inhou, maar enige impak sal waarskynlik streekspesifiek wees en nie grootskaalse prysreaksie ontlok nie.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.