On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou: Kongres beklemtoon wortels van veerkragtigheid

───   ISABEL VAN TONDER 12:11 Thu, 07 Aug 2025

Vrystaat Landbou: Kongres beklemtoon wortels van veerkragtigheid | News Article
Vrystaat Landbou se kongres is deur talle boere bygewoon. Foto verskaf

Die Vrystaat Landbou se kongres het sy tema vir vanjaar beklemtoon met deurdagte gesprekke en knellende kwessies in landbou uitgewys.

Belangrike kwessies is kaalvuis getakel. Die tema vanjaar is wortels van veerkragtigheid. Verskeie sprekers het opgetree en die nuwe bestuur van die organisasie is aangewys.

Francois Wilken, president, het veiligheid, veediefstal en onteiening bespreek. Die toenemende gevalle van veediefstal, geweld en brandstigting langs die Lesotho-grens is ‘n groot bekommernis. Hy het versoek dat daar opnuut dialoog gevoer en aksie geneem word. 

Boere moet hulself beskerm en video’s neem van situasies waar dit nodig mag wees. Hy het verwys na ’n onlangse hofuitspraak waarin goedkeuring gegee is om die opnames in bedreigende situasies te maak. Hy het ook klem gelê op opleiding wat op ’n deurlopende basis aan alle rolspelers soos boere, veiligheidsgroepe, organisasies, asook polisiebeamptes gegee moet word.

Vrystaat Landbou het onlangs sy kongres gehou. Foto: Facebook

“Kuddegesondheid is een van die belangrikste faktore op enige plaas en die regering moet begin standpunt inneem daaroor. Dinge is nie reg nie. Medisyne is onverkrygbaar en duur. Siektes is vir jare beheer, hoekom nie nou nie? Die produsent is die lydende party en die regte protokol word nie gevolg nie,” sê Wilken.

“Realiteit moet met positiwiteit aangespreek word, maar negatiwiteit, positiwiteit en realiteit moet altyd in konteks verstaan word.” Hy het hom ook uitgespreek oor korrupsie en ideologieë wat agter politieke besluite lê. Hy het ook verwys na “kruipende onteiening” en die intimidasie van boere veral langs die Lesotho-grens.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.  Foto: Vrystaat Landbou

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir landbou, was ook een van die sprekers. Sy het genoem die departement is deeglik bewus van die uitdagings van die Vrystaatse boere veral met probleme op die Lesotho-grens. Daar word dringend aan volhoubare oplossings gewerk in samewerking met John Steenhuisen. minister van landbou. ’n Persoonlike boodskap van hom is aan die kongres voorgelees.

Haar department het verskeie vergaderings gehou en bygewoon met kommersiële, opkomende en bestaansboere, begunstigdes van voedselsekerheid –en landsorgprojekte, georganiseerde landbou en landbou-organisasies. 

Aandag word gegee aan veldbrande, ramptoestande, bek-en-klouseer, die toestand van die Vrystaat se paaie, veiligheid, asook die samestelling van ‘n komitee om aandag te gee aan die meesterplan vir landbou en landbouverwerking. “Ek is bewus van die gewigtigheid van jul stryd, die omvang van jul veerkragtigheid en die belangrikheid van die werk wat julle doen,” sê Rockman.

Elzabé Rockman, LUR van landbou in die Vrystaat. Foto: Facebook

Sy sê daar moet verantwoordelike beriggewing wees oor die Onteieningswet aangesien dit ‘n emosionele saak vir almal is. Een van die onmiddellike prioriteite van die departement is bereik met die Sanas-akkreditasie van die Kroonstad- provinsiale veeartsenydienste se laboratorium vir die toetsing van bruselose. 


Die swak toestand van Vrystaatse paaie en brûe is ook bespreek. Die departement van landbou het ‘n sterker rol begin speel om alle belanghebbendes bymekaar te bring en vinniger vooruitgang te maak met herstelwerk en instandhouding.

Rockman het haar ook uitgespreek teen korrupsie en sê Suid-Afrikaners kan nie kies watter wette hul wil nakom nie en dat die probleem soms begin by iets klein soos ‘n omkoopgeskenk vir ‘n boetekaartjie. “Integriteit is iets wat gebeur as niemand kyk nie, kom ons wees eerlik in ons eie omgang.”  

Die nuwe bestuur van Vrystaat Landbou is ook verkies. Wilken is die president en Friedl von Maltitz visepresident. 

OFM Nuus dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.