Agriculture
Trekker- en stroperverkope toon beduidende groei in Julie – vooruitsigte bly positief─── 10:21 Mon, 11 Aug 2025

Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie (Sala) het aangekondig dat die kleinhandelverkope van landboumasjinerie in Julie vanjaar sterk gegroei het vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
Volgens Willie Human, voorsitter van Sala, is daar in Julie 753 trekkers verkoop – ’n toename van byna 34% teenoor die 563 eenhede in Julie 2024. “Vir die jaar tot dusver is die trekkerverkope nou sowat 23% hoër as verlede jaar, wat ’n duidelike aanduiding is van die volgehoue vraag na en vertroue in die landboumasjineriemark.”
Die stroperverkope in Julie het effens gedaal – ses eenhede is verkoop teenoor agt in Julie verlede jaar – maar die jaar-tot-datum-syfers toon steeds ’n merkbare styging. “Daar is ’n byna 27%-toename in stroperverkope vir die jaar sover, wat wys dat boere steeds belê in toerusting vir groter doeltreffendheid.”
Human sê die sentiment in die mark bly positief, met gunstige omstandighede wat ’n goeie oesjaar kan ondersteun. “Die aanplant van gewasse in die wintergewasstreke behoort soortgelyk te wees as verlede jaar. Met die winterreën wat tot dusver geval het, lyk die gewasproduksievooruitsigte op die oomblik baie goed.”
Hy wys daarop dat hoë grondwatertafels ná die goeie somerreën en laat reënbuie in die somer ’n stewige basis skep vir die komende seisoen. “Oor die algemeen lyk die vooruitsigte vir die komende somergewasseisoen gunstig. Ons sien uit na ’n produktiewe jaar, mits die weerstoestande aanhou saamwerk.”
Human waarsku egter dat daar steeds bepaalde uitdagings vir produsente voorlê. “Mielie-oeste is vanjaar laat, en boere gaan onder groot tydsdruk wees om betyds klaar te oes, hul landerye voor te berei en aan te plant vir die nuwe seisoen."
Wat vooruitskattings betref, bly Sala optimisties. “Huidige ramings dui daarop dat die trekkerverkope teen die einde van 2025 sowat 10% hoër as verlede jaar sal wees. Ons verwag ook dat die stroperverkope die 2024-syfers sal oortref.”
OFM Agri cvs