Agriculture
Vrystaat se Jongboer van Jaar staan op met lied in hart─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 12 Aug 2025

Die jong boer Tienie Prinsloo van die Hoopstad-omgewing is onlangs aangewys as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar.
Prinsloo (36), van die plaas Loomar, Hoopstad, boer die afgelope 15 jaar in dié distrik en dien saam met sy pa as direkteur van hul maatskappy. Hulle boer met pekanneute, lusern, suikerbone, groente en bedryf ook ’n Beefmaster-stoet wat sy eintlike passie is.
“Ek staan elke oggend op met ‘n oop hart. Dis vir my lekker om met mense te werk, veral met dié wat ‘n verskil wil maak. Dis vir my lekker om met mede-boere te werk, ons moet mekaar help en ondersteun. Dis lekker om in die natuur te wees,” sê Prinsloo.
Hy meen georganiseerde landbou is baie belangrik. Hy probeer boere kry om betrokke te raak. “Dit is die toekoms; boerdery is nie net meer boerdery nie, dit is baie breër as dit,” sê Prinsloo.
Volgens Vrystaat Landbou is die doel van die kompetisie om jongboere met kennis in boerdery te bemagtig om die regte en ingeligte besluite te neem. Dit is belangrik om verhoudings met ander jongboere te bou sodat die netwerk mekaar in Landbou kan ondersteun.
“Dit is ‘n voorreg om in Landbou te wees en ‘n mens het ‘n plig teenoor jou werksmense en vorige generasies om ‘n sukses daarvan te maak,” sê Prinsloo.
Die Nasionale Jongboer van die Jaar word in November in Gauteng aangewys.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs