Agriculture
Preserveerkampioenskap lok oorweldigende belangstelling─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 14 Aug 2025

Die eerste Nasionale Preserveerkampioenskap is onlangs gehou en dis duidelik dat die tyd ryp is vir nasionale erkenning van gehalte- gepreserveerde produkte.
Die eerste Nasionale Preserveringskampioenskap is onlangs by Eensgezind in Durbanville gehou. Dit het beslis ’n nuwe era ingelui en dis duidelik dat die tyd ryp is vir Nasionale erkenning van gehalte- gepreserveerde produkte.
“Die getal inskrywings het heeltemal ons verwagtinge oortref. Daar was 456 inskrywings van 66 vervaardigers, meer as dubbeld soveel as verwag,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en ook organiseerder van die kampioenskap”.
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit 38 kenners wat onder meer bekende sjefs, gesoute kosskrywers, klein- en groothandelspesialiste, sjefstudente, VLV van Kaapland en vervaardigers ingesluit het.
“Hierdie preserveerkampioenskap is geskep om topgehalteprodukte te erken, bewustheid oor preservering te verhoog, bemarkingsgeleenthede te skep en die kuns van voedselbewaring te vier,” sê Susina Jooste, koskenner en hoofbeoordelaar.
Die kampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, fokus op gepreserveerde vrugte -en groenteprodukte in meer as 100 klasse. Daar was konfyt, marmelade, blatjang, piekels, pesto’s en ander innoverende skeppings.
Beoordelaars tydens die onlangse Preserveringskampioenskappe. Foto verskaf
Hierdie kompetisie gaan beslis ’n impak op gehalte in die mark hê. Verbruikersvertroue in gepreserveerde produkte gaan toeneem en die produkte wat toekennings verkry het gaan eersdaags op die winkelrakke spog.
“Produkte is na afloop van kompetisie aan welsynorganisasies en hulpbehoewende skole geskenk.”
Breyton Milford sê die groot belangstelling toon dat daar ‘n duidelike behoefte in die bedryf bestaan vir hierdie soort platform. “Ons het hierdie kompetisie geskep vir agriprosesseerders in die vrugte en groentebedryf.
Preserveringskampioenskappe onlangs gehou met talle inskrywings. Foto verskaf
“Die platform plaas die produkte sáám met kaas en wyn op die tafel,” sê Milford. “Die betrokkenheid van ClemenGold en Hollard wys op ondersteuning in die bedryf.
“Sonder hulle sou dié mylpaal nie moontlik gewees het nie.”
Die wenners en toekenningsgeleentheid vind op 19 Augustus te Lanzerac in Stellenbosch plaas. Besoek preservechamps of volg Agri-Expo op sosiale media.
OFM Agri mvh