Agriculture
Noordwes se landbouskou herleef in September─── 13:35 Thu, 14 Aug 2025

Die ikoniese Noordwes-landbouskou maak sy terugkeer in September in Vryburg.
Madoda Sambatha, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, het die amptelike terugkeer van hierdie vlagskipgeleentheid aangekondig wat van 18 tot 21 September op die Vryburg-skouterrein aangebied sal word.
Die skou word in vennootskap met die Dr Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit, Naledi-munisipaliteit en die provinsiale departement as ’n strategiese platform geposisioneer om landbou as ’n mededingende, besigheidsgerigte bedryf te bevorder.
Sambatha sê die nuwe formaat sluit jaarlikse distrikskoue voor die einde van Junie in, met Vryburg as permanente gasheer van die provinsiale hoofskou in September. “Ons bring ’n platform terug wat boere, produsente, die jeug en innoveerders verenig – ’n ware viering van landbou.”
Die skou sal ’n vol program bied met meesterklasse, uitstallings, een-tot-een-sessies met finansiële instellings en landbou-ondernemings, asook mededingende vee-uitstallings. Paneelbesprekings oor innovasie, veerkragtigheid en sektorontwikkeling asook loopbaanvoorligting vir jong landbouleiers is alles deel van die aanbod.
Sambatha beskryf die Noordwes-landbouskou as ’n toonbeeld van interregeringsamewerking en ’n uitstalvenster van die provinsie se potensiaal in agri-toerisme. “Noordwes was vir jare die voedselmandjie van Suid-Afrika. Ons boere se veerkragtigheid en vernuf verdien om op groot skaal gevier te word.”