Agriculture
Hen Hotel gebou met passie en liefde vir pluimveebedryf─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 18 Aug 2025

Die Hen Hotel is ‘n pluimveeplaas wat floreer op passie en goeie balans tussen verskeie uitdagings in dié bedryf.
Die pluimveebedryf is die tweede grootste landbousektor in waarde en grootste werkgewer in landbou. Daar is sowat 58 000 mense wat in dié waardeketting werk.
“My stokperdjie het my besigheid en passie geword. Hen Hotel verskaf vanaf dag oue kuikens tot lêhenne van 18 weke,” sê Alexander Smit van die Hen Hotel net buite Bloemfontein.
Gehalte van hoendervleis en eiers het alles te doen met hoe die hen grootgemaak word. Hitte en lig is die grootste faktore wat sukses bepaal in die grootmaakproses.
“Uitdagings in die pluimveebedryf soos voerpryse, siektes en marktoegang is slegs hekkies wat oorkom moet word. Maak seker dat jy altyd kontantvloei het om voer vir jou hoenders te koop. Siektes gaan altyd daar wees en biosekuriteit moet prioriteit wees. Biosekuriteit beteken die beskerming van jou hoenders se lewe en dis prioriteit. Elke persoon moet sy bes doen om die regte dinge te doen.”
Vir die Hen Hotel is hoenders baie belangrik. Foto: Facebook
Marktoegang se twee belangrikste faktore is om klein te begin en seker te maak van hoogstaande gehalte. Hoenderboere het net een geleentheid om die verbruiker te beïndruk met sy produk.
“Enigiemand wat ’n hoender besit, help bou aan die land se ekonomie. Jy moet mielies aankoop en jy kan hoendervleis en eiers verkoop. Eiers en hoendervleis is die grootste bronne van proteïn en almal het dit nodig.”
Die Hen Hotel spog met hoenders van hoogstaande gehalte. Foto: Facebook
Volgens Smit is sy liefde en passie vir sy pluimveeboerdery van die belangrikste bronne waar hy moed en veerkragtigheid verkry in swaar tye. Sy slagspreuk op die plaas is: “Think chicken, think Hen Hotel”. Sy hoenders leef ’n goeie lewe net soos in ’n hotel.
OFM Agri/Isabel van Tonder dg