On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Vurige Anatoliese herdershonde skakel veeverliese so te sê uit

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 19 Aug 2025

Vurige Anatoliese herdershonde skakel veeverliese so te sê uit | News Article
Anatoliese herdershonde is uitstekende veewagters wat veeverliese bykans uitskakel. Foto verskaf

Anatoliese herdershonde speel ‘n baie belangrike rol op plase en waar dié diere as veewagters aangewend word, word veeverliese bykans uitgeskakel.

Die Anatoliese herdershond speel ook ‘n baie belangrike rol in algemene plaasveiligheid. Dié honderas, sowat 3 000 jaar oud en afkomstig van die valleie en berge van Anatolië, Turkye, is ‘n mengsel van die Asiese wolf, Turkse sleehonde en Romeinse mastiffs. Verskillende lede van die ras se voorkoms mag verskil.

“Die honde het ‘n baie sterk instinktiewe beskermingsdrang, veral teenoor vee. Dis belangrik dat die boer die hond oplei en in die regte rigting stuur en so verseker dat die hond inderwaarheid ’n herder word,” sê Wilna Strauss, ‘n teler van Anatoliese herdershonde in Noordwes.



Behoorlike sorg is uiters belangrik indien so ‘n hond aangeskaf word. Alle honde verskil en dit is belangrik om te onderskei of ‘n hond vee moet oppas of eerder meer geskik is vir die algemene beveiliging van die plaas.

Die honde het spesifieke voeding- en hanteringsbehoeftes en dit is belangrik dat voornemende eienaars seker maak dat hulle vooraf genoeg kennis inwin om die ras behoorlik te hanteer en te versorg.



Anatoliese herdershonde is uitstekende veewagters. Foto verskaf

Hul aanvoeling en genetiese programmering maak hulle uiters geskik om vee op te pas en hulle kan tot 18 jaar oud word.

Anatoliese herdershonde skram weg van menslike interaksie, behalwe met die eienaar. Dit is belangrik dat die honde ‘n sterk band opbou met die trop wat hulle moet oppas. Hulle is vurige beskermers en sal beslis afreken met enige mens, rooikat, bobbejaan of rooijakkals wat ‘n trop vee bedreig.

“Hulle is uiters effektief om vee op te pas en dit raak nog beter as daar ‘n span honde is wat kan saamwerk,” sê Strauss.

Die eerste 10 maande is die belangrikste tydperk in die hond se opleiding. Sorg dat sy voeding reg is, dat hy ontwurm is en nie bosluise het nie.  Gee liefde en gee aandag en die hond sal jou minstens 16 jaar se vrede en vreugde op die plaas verskaf. 

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.