On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Noord-Kaap Agri se jaarkongres versterk boere

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 25 Aug 2025

Noord-Kaap Agri se jaarkongres versterk boere  | News Article
Agri Noord-Kaap se 46ste jaarkongres was ’n groot sukses. Foto verskaf

Die Agri Noord-Kaap se jaarkongres het onlangs vir die 46ste keer in Kimberley gehou. Dit was ’n geleentheid wat vir boere hoop vir die toekoms gegee het.

Die tema vanjaar was Innovasie, Volhoubaarheid en Veerkragtigheid in Landbou. Heelwat boere uit die omgewing het hierdie kongres bygewoon en daar is hoop gegee, planne gemaak en oplossings uitgeruil vir ‘n landboustreek wat ’n unieke klimaat het. 

Dit het ook te doen met uiterstes wat betref droogte, veldbrande en ander uitdagings. Die nuwe bestuur van Agri Noord-Kaap is ook aangewys en Willem Symington is onbestrede as president verkies en Wiaan Janse van Rensburg as visepresident.

Willem Symington, president van Agri Noord-Kaap.

“Die kongres is ‘n toonvenster van die Noord-Kaap se boere vir die res van die land. Dis ‘n plek waar ons bietjie wil spog oor ons landbouers en die bydrae wat ons vir die res van die land lewer in landbou. Ek is trots om deel te wees van ’n struktuur en bedryf wat die Noord-Kaap op sy bene hou,” het Symington in sy presidentsrede gesê.

Hy het ook die wens uitgespreek dat die land beter regeer en bestuur sal word – dit geld vir alle vlakke van dienslewering. Die tyd het aangebreek dat mense in die land ophou praat en net begin om elke dag hul werk te doen. Sy wens is ook dat Agri Noord-Kaap saam met ander organisasies druk sal toepas dat dinge in die land reggemaak kan word. 

“Landbouers word toenemend gesien as ‘n strategiese vennoot en nie net ‘n belanghebbende party nie.  Dis ‘n geweldige groot skuif.  Ewe skielik word landbou gesien as ‘n onvervangbare vennoot.” 

Wiaan Janse van Rensburg, visepresident van Agri Noord-Kaap. 

Vanjaar se sprekers was dr. Henning Gericke, kliniese en sportsielkundige, Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, dr. Johnny van der Merwe, landbou-ekonoom, en Jaco Minnaar, president van Agri SA.

Jongboer van die Jaar Stephan Becker en sy vrou, Estelle, saam met Annelie Lerm, distriksbestuurder: verkope en naverkope Toyota SA.

Een van die hoogtepunte tydens die kongres was die verkiesing van die Noord-Kaap se kandidaat vir die Jongboer van die Jaar-kompetisie. Die wenner was Stephan Becker, ’n boer van die plaas Smalhoek in die Upington-distrik. Die naaswenner was Sybrand Venter, ‘n boer van Carnavon.

Leerlinge van die die Hoërskool Martin Oosthuizen en die Hoër Landbouskool Jacobsdal het ook aan ‘n besprekings deelgeneem.  Die tema was: Die rol van tegnologie in die Landbou. Die Hoërskool Martin Oosthuizen het vanjaar die beker gewen vir die beste debat oor die onderwerp. Die skool het ook ‘n prys van R5 000 gewen van Integrisure versekeringsmakelaars.

Daar is ook afskeid geneem van Marian van der Westhuizen, NK Agri se finansiële beampte, wat ná 40 jaar die organisasie verlaat.

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.