Agriculture
Rondloperdiere ál groter probleem op hoofpaaie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 27 Aug 2025

Vrystaat Landbou is bekommerd daaroor dat rondloperdiere ‘n toenemende probleem word, veral in Vrystaatse gemeenskappe en op hoofpaaie.
Vrystaat Landbou het einde Januarie ’n opname aangevra van boerdery-gemeenskappe wat met dié probleem te kampe het, veral in padreserwes. Daar is bepaal dat twaalf boerdery-gemeenskappe in die Vrystaat ’n groot probleem met rondloperdiere het. Dit is Bultfontein, Parys, Memel, Reddersburg, Excelsior, Heilbron, Vredefort en Selosesha/Thaba Nchu.
Die polisie is reeds op verskeie forums versoek om die probleem met groter erns die hoof te bied. Nasionale opdragte is hieroor uitgereik. Daar word benadruk dat enige lid van die publiek rondloperdiere by hul naaste polisiekantoor moet aanmeld en dan ’n voorvalleboek-inskrywingsnommer moet bekom.
Daar is dikwels onduidelikheid onder polisiebeamptes wat meen dat dit nie hul verantwoordelikheid is om aan die kwessie aandag te gee nie, maar eerder dié van die betrokke munisipaliteit.
Die Padverkeerswet bepaal egter duidelik dat rondloperdiere nie in padreserwes mag wei of rondloop nie. Die probleem is dikwels ook dat die diere nie gebrandmerk of getatoeëer is nie. Eienaarskap kan dus nie bepaal en boetes opgelê word of vervolging plaasvind nie.
Vrystaat Landbou het einde November 2024 ‘n vergadering met die Vrystaatse polisiehoof, genl. Baile Motswenyane, belê om duidelikheid te kry oor die opdragte wat uitgereik is. Motswenyane het die versekering gegee dat die opdragte nog van krag is en dat die polisie wel ‘n verantwoordelikheid het in hierdie sake. Sy het bygevoeg die gebrek aan ordonnansies en versuim om skutte op te rig vererger die probleem.
Die gebrek aan skutgeriewe is inderdaad ‘n groot probleem, sê Peet Swanepoel, privaat diefstalondersoeker wat diens lewer aan Vrystaat Landbou. “In die hele Vrystaat is daar tans slegs vyf skutte. Dit is in Virginia, Ladybrand, Qwaqwa, Harrismith en tussen Ficksburg en Clocolan. Volgens bywette en ordonnansies behoort elke munisipaliteit ’n skut te hê, wat nie tans die geval is nie. Dit is ’n geweldige probleem.”
Rondloperdiere kan gevolglik nie geskut word in dorpe waar daar nie ’n skut opgerig is nie. Vrystaat Landbou het ‘n versoek aan Cogta en munisipaliteite gerig om bywette en boetelyste in te stel om rondloperdiere en die probleme wat daarmee gepaardgaan, te beheer. Volgens Vrystaat Landbou is dit ‘n jammerte dat sekere munisipaliteite hiermee sloer.
Met die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat is daar weer ’n versoek aan die provinsiale prioriteitskomitee gerig om die saak doeltreffender aan te pak. Riglyne van Vrystaat Landbou se regsbeampte is aan polisiekantore gestuur sodat die probleem van rondloperdiere en bek-en-klouseer meer effektief die hoof gebied kan word. Daar is ook verwys na dokumentasie en verwyderingsertifikate wat gereed moet wees, ook wat betref veewagters wat diere oppas.
Die probleemgebiede wat veral uitgelig word is Wepener en Hobhouse, omdat dit grensgebiede is. Privaat ondersoekers soos Swanepoel wat aan Vrystaat Landbou diens lewer wat veediefstal betref is ook versoek om meer duidelikheid aan boerderygemeenskappe te gee rakende die probleem en ook die soort oortredings en boetes daaraan verbonde.
Vrystaat Landbou versoek alle boerderygemeenskappe om op hul maandvergaderings met die polisie die probleme te opper en daarop aan te dring dat dit die nodige aandag geniet.