Agriculture
Vier gevalle van bek-en-klouseer in Vrystaat aangemeld─── ISABEL VAN TONDER 13:00 Tue, 26 Aug 2025

Vier gevalle van bek-en klouseer is in die Vrystaat aangemeld en streng maatreëls geld om die siekte se verspreiding te voorkom, sê die departement van landbou en landelike ontwikkeling.
Die departement sê in ’n verklaring drie van die gevalle is in Kroonstad (Moqhaka-munisipaliteit), twee op kommersiële plase en een in ‘n gemeenskaplike weidingsgebied. Die vierde bevestigde geval is op ‘n kommersiële plaas naby Cornelia (Mafube-munisipaliteit).
Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n radius van 10 km vanaf die besmette eiendom. Die geraakte grond is onder kwarantyn geplaas en alle plase binne dié radius is in kennis gestel en onder voorsorgkwarantyn geplaas totdat die ondersoek voltooi is om enige verdere verspreiding van die siekte te verhoed.
Die departement gee voorkeur aan inenting op die besmette plase. Inenting het onmiddellik begin om te help met die verlaging van die virale lading en om verdere verspreiding van die virus te beperk. Moniteringsaktiwiteite duur voort in die Moqhaka-, Metsimaholo- en Mafube-munisipaliteit om die moontlike omvang van die verspreiding vas te stel. “Die departement bly verbind tot deursigtige kommunikasie en sal voortgaan om alle belanghebbendes ingelig te hou soos verdere ontwikkelings ontvou.”
Alle boere, afslaers en spekulante word in ooreenstemming met ’n kennisgewing in Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) gevra om die beweging van diere met gesplete hoewe te beperk en streng bioveiligheidsmaatreëls na te kom – insluitend die ontsmetting van voertuie en toerusting.
Alle nuwe vee moet vir 28 dae in kwarantyn geplaas word voordat dit by bestaande troppe geplaas word. ’n Register moet van alle dierebeweging en besoekers aan plase gehou word. Enige verdagte gevalle (insluitend diere wat oormatige speekselafskeiding, mondletsels of kreupelheid toon) moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word.
Al die rolspelers word gevra om saam te werk om die siekte te beperk.