Agriculture
Steenhuisen waarsku boere opnuut oor bek-en-klouseer─── 09:36 Tue, 02 Sep 2025

Bek-en-klouseer is nie ’n probleem wat die staat alleen kan oplos nie. Dit verg dissipline en die samewerking van elke produsent, sê John Steenhuisen, die minister van landbou.
Steenhuisen het op ’n mediasessie in die parlement gewaarsku die voortdurende uitbreking van bek-en-klouseer hou ’n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se veesektor, landboubedryf en die ekonomie in. Slegs deur samewerking kan die toekoms van die land se vleis- en suiwelbedryf verseker word, sê hy.
Steenhuisen het bevestig die uitbrekings in die Oos-Kaap het nie ná 2024 hervat nie. Die laaste geval is in September 2024 aangemeld, en ná omvattende monitering is die siektebeheergebied op 4 Julie vanjaar opgehef.
“Boere in Humansdorp en Oos-Londen het swaar gekry onder kwarantyn, maar hul samewerking het tot sukses gelei. Die voorlopige toetse toon geen nuwe virusteenwoordigheid nie.”
In Limpopo is die siekte reeds in Augustus 2023 in bedwang gebring. Die beheergebied is eweneens op 4 Julie vanjaar opgehef.
Hoewel daar positiewe nuus is, bly die situasie elders kommerwekkend. Vanaf Mei vanjaar was daar nuwe uitbrekings in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat, nadat dit aanvanklik net in KwaZulu-Natal voorgekom het.
Volgens Steenhuisen is daar tans 274 onopgeloste uitbrekings: 180 in KwaZulu-Natal, 54 in Gauteng, 26 in Noordwes, nege in Mpumalanga en vyf in die Vrystaat. Die virus het deur veilings en onbeheerde vee-beweging versprei.
‘Die grootste risiko lê steeds in vee wat onwettig of sonder permitte vervoer word’
Vir die huidige finansiële jaar het die departement 900 000 entstofdosisse van die Botswana Vaccine Institute aangekoop, teen ’n koste van R72 miljoen. Die eerste 500 000 dosisse is reeds in Junie gebruik, veral in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, Noordwes en die Vrystaat.
Die oorblywende 400 000 dosisse is einde Augustus afgelewer, waarvan 50 000 reeds versprei is.
Geen gevalle is in die Wes- of Noord-Kaap aangemeld nie. Steenhuisen waarsku egter dat hierdie provinsies se veiligheid afhanklik is van die streng nakoming van bioveiligheid deur produsente. “Die grootste risiko lê steeds in vee wat onwettig of sonder permitte vervoer word.”
‘Huidige stelsel gefragmenteer’
Op 21 en 22 Julie het die departement van landbou saam met die Landbounavorsingsraad ’n bosberaad aangebied onder die tema “Building a Resilient System to Fight Foot and Mouth Disease”. Meer as 400 verteenwoordigers van die staat, akademie en die bedryf het deelgeneem.
Steenhuisen het erken dat die huidige stelsel gefragmenteer en onvoldoende afgedwing word. Voorstelle sluit in die hersiening van beheergebiede, groter diagnostiese kapasiteit en beter toegang tot entstowwe. ’n Tussenskaalse entstofaanleg wat 150 000 tot 200 000 dosisse per jaar kan lewer, word in Maart 2026 beplan.
Die bosberaad het die aanneming van die Progressive Control Pathway (PCP) aanbeveel – ’n gefaseerde benadering om bek-en-klouseer-vrye status te herwin. Dit sal gekombineer word met sterker bestaande beheermaatreëls en wetgewende hervormings.
Belangrike onmiddellike optrede sluit in:
- versnelde plaaslike entstofproduksie;
- uitbreiding van diagnostiese kapasiteit;
- implementering van vee-identifikasie en naspeurbaarheid; en
- intensiewe bewusmakingsveldtogte onder boere.
Nuwe taakspan aangekondig
As deel van die ingrypings word ’n nywerheid–regering-taakspan oor gesondheid ingestel. Dit sal bestaan uit senior amptenare van die departement van landbou sowel as vooraanstaande veeartsenykundiges en akademici uit die bedryf. Die verteenwoordigers is die volgende:
Regeringsverteenwoordigers:
- Dr. Emily Mogajane (voorsitter en sameroeper; hoofdirekteur: biosekerheidskoördinering)
- Dr. Botlhe Modisane (hoofdirekteur: dieregesondheid en -produksie, departement van landbou)
- Dr. Nomsa Mnisi (direkteur: biosekerheid-ondersteuningsdienste, departement van landbou)
- Dr. Themba Sikhakhane (hoofdirekteur: veeartsenydienste, KwaZulu-Natal)
- Dr. Bheki Cele (hoofdirekteur: veeartsenydienste, Mpumalanga)
- Dr. Wynton Rabolao (direkteur: veeartsenydienste, Gauteng)
- Dr. Baratang Lubisi (navorsingspanbestuurder, Landbounavorsingsraad)
- Dr. Moses Mabunda (direkteur: veeartsenydienste, Limpopo)
- Dr. Marietta Swanepoel (adjunkdirekteur: sekretariaatsteun)
- Dr. Oseke Ngoveni (staatsekretariaatsteun).
Nywerheid en akademie:
- Prof. Dietmar Holm (Universiteit van Pretoria, beesgesondheid)
- Dr. Dirk Verwoerd (aansteeklike siektes en entstofontwikkeling)
- Dr. Jacque Marais (suiwelbedryf)
- Dr. Anthony Davis (suiwelverwerkers)
- Dr. Adriaan Olivier (volstruisbedryf)
- Dr. Amanda Botes (spesialis in bek-en-klouseer- en Afrika-varkgriep-diagnostiek)
- Dr. Mark Chimes (suiwel; voorsitter van die Brucellose- en tuberkulose-stuurgroep)
- Dr. Pieter Evans (spesialis in uitbrekingsbestuur: vark- reproduktiewe en respiratoriese sindroom en Afrika-varkgriep
- Dr. Shaun Morris (voerkraalspesialis)
- Dr. Baty Dungu (Wetenskaplike Kommissie van die Wêreldgesondheidsorganisasie/Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid; Afrika-Unie se Panafrika-sentrum vir Veeartsenykundige Entstowwe – AU-PANVAC – en Inter-Afrika-buro vir Dierehulpbronne – AU-IBAR)
- Dr. Danie Odendaal (spesialis in herkouer-gesondheid)
- Dr. Gerhard Neethling (uitvoer- en abattoirspesialis)
- Dr. Francois Maree (spesialis in entstofontwerp en diagnostiek)
- Dr. Livio Heath (diagnostiek, epidemiologie en internasionale handel)
Hierdie span sal op waardeketting-besprekings verslag doen en praktiese aanbevelings maak oor entstofvoorsiening en die monitering en hantering van uitbrekings.
Ernstige waarskuwing aan boere
Steenhuisen het boere ernstig gewaarsku teen die verplasing van vee wat siektekenmerke toon, of teen die privaat behandeling van besmette diere sonder om dit aan staatsveeartse te rapporteer.
“Sulke optrede is nie net onwettig nie, maar bedreig die hele veesektor. Dit kan bek-en-klouseer permanent in Suid-Afrika vestig,” het hy gesê.
Hy het alle veeboere versoek om:
- volledig saam te werk met veeartsenydienste,
- enige vermoedelike gevalle onmiddellik aan te meld, en
- streng bioveiligheidsmaatreëls na te kom.
OFM Agri cvs