On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbousakevertroue daal weer effens in derde kwartaal

───   09:46 Tue, 02 Sep 2025

Landbousakevertroue daal weer effens in derde kwartaal | News Article
Wandile Sihlobo. Foto: Agbiz

Die vertrouensindeks van die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) en die Nywerheidontwikkelingskorporasie (NOK) het in die derde kwartaal van 2025 met twee punte tot 63 punte gedaal – die tweede agtereenvolgende daling.

Volgens Agbiz se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, verwys respondente veral na bek-en-klouseer en handelspanning met Amerika as die grootste bekommernisse. Swak munisipale dienslewering en die stadige beskikbaarstelling van staatsgrond bly ook knelpunte.

Desondanks bly die indeks bo die neutrale vlak van 50 punte, wat wys dat boerdery- en landbou-ondernemings steeds oorwegend optimisties is. Goeie somer- en winterreën en verbeterde hawebedrywighede ondersteun uitvoere, terwyl ’n gunstige oes vir 2025/26 positiewe vooruitsigte bied.

Vyf van die tien subindekse het verswak. Die markaandeel-indeks het met ses punte teruggesak tot 59, terwyl die indiensnemingsindeks met vyf punte tot 50 gedaal het, in ooreenstemming met ’n 3%-daling in plaaswerk in die tweede kwartaal.

Kapitaalbeleggings het agt punte ingeboet en staan op 67, terwyl die uitvoervolume-indeks skerp met 17 punte tot 43 gedaal het weens die handelspanning internasionaal.

Die algemene landboutoestande-subindeks het 13 punte verloor en staan op 67, veral weens die druk van dieregesondheidskwessies.

Aan die positiewe kant het die omsetindeks met 20 punte tot 75 gestyg, terwyl netto-bedryfsinkomste met ses punte verbeter het tot 71. Die algemene ekonomiese vooruitsigte het onverwags met agt punte verbeter tot 58.

Finansieringskoste het met 14 punte tot 71 gedaal te midde van laer rentekoerse, terwyl die voorsiening vir slegte skuld onveranderd op 50 gebly het.

Langtermynuitdagings

Sihlobo meen die resultate toon die herstel blyk ongelyk oor subsektore te verloop, met die veesektor onder druk en ander subsektore wat groei toon.

Hy beklemtoon die belang van die diversifisering van uitvoermarkte, veral na Brics-lande soos China, Indië en Saoedi-Arabië, terwyl bestaande toegang tot die Europese Unie, Verenigde Koninkryk, Afrika en die Amerikas behou moet word.

“Samewerking tussen sakeondernemings en die regering oor biosekerheid, beter munisipale bestuur en die beskikbaarstelling van staatsgrond is noodsaaklik vir volhoubare uitbreiding.”

OFM Agri

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.