On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou verwerp Ramaphosa se opmerkings oor Zim se grondgrype

───   ISABEL VAN TONDER 13:00 Wed, 03 Sep 2025

Vrystaat Landbou verwerp Ramaphosa se opmerkings oor Zim se grondgrype | News Article
Vrystaat Landbou verwerp pres. Cyril Ramaphosa se jongste opmerkings oor grondhervorming.

Vrystaat Landbou (VL) verwerp pres. Cyril Ramaphosa se onlangse opmerkings ten sterkste waarin hy Suid-Afrika se grondhervormingspogings met die grondgrype in Zimbabwe vergelyk het.

Ramaphosa het volgens VL in sy onlangse opmerkings Suid-Afrika se grondhervormingspogings met Zimbabwe se rampspoedige eksperiment vergelyk. Sulke vergelykings kan gevaarlik wees.

“Zimbabwe se sogenaamde grondhervorming het een van Afrika se mees produktiewe landbou-ekonomieë in duie gestort, voedselsekerheid vernietig en miljoene in armoede gedompel.  

"Om dit as ’n voorbeeld vir Suid-Afrika aan te voer, toon ’n kommerwekkende minagting vir die lesse van die geskiedenis,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van VL.

Charolais-beeste by Nampo vanjaar. Landbou onderlê die vermindering van armoede, asook landelike stabiliteit en bowenal voedselsekerheid, sê Vrystaat Landbou. Foto: Facebook/Nampo

Kommersiële landbou is nie die vyand van transformasie nie – dit is die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie en die sleutel tot ons voedselsekerheid, sê hy.

Die landbou is ‘n groeiende bydraer tot die Bruto Binnelandse Produk en sy byrae het gestyg van 1,8% in 2013 tot 2,8% in 2024. Dit is ’n nasionale enjin wat bosbou en visserye insluit en werksgeleenthede en lewensonderhoud aan honderdduisende gesinne bied.

Voorts hou die landbou Suid-Afrika wêreldwyd mededingend en genereer die bedryf noodsaaklike uitvoerdienste, sê Von Maltizt. Landbou onderlê die vermindering van armoede, landelike stabiliteit en bowenal voedselsekerheid.

‘Ware bemagtiging beteken nie om grond uit produksie te haal nie’

Francois Wilken, president van VL, voeg by as die Suid-Afrikaanse regering werklik ernstig is oor transformasie, sal hy die toekenning van eiendomsreg en titelaktes aan nuwe toetreders en opkomende boere prioritiseer. 

Sonder veilige eienaarskap kan geen boer toegang tot finansiering kry, in sy of haar grond belê of volhoubare ondernemings bou nie. “Ware bemagtiging beteken nie om grond uit produksie te haal nie, maar om boere die sekerheid en ondersteuning te bied wat hulle nodig het om suksesvol te wees,” sê Wilken.

VL ondersteun betekenisvolle en volhoubare transformasie. “Ons sal egter nie stilbly wanneer regeringsnarratiewe die risiko loop om Zimbabwe se foute te herhaal nie.  Die president moet duidelikheid en leierskap bied wat die landbousektor versterk, nie verswak nie”.

OFM Agri cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.