Agriculture
AgriSA herbevestig verbintenis tot private eiendomsreg─── ISABEL VAN TONDER 13:16 Wed, 03 Sep 2025

AgriSA herbevestig sy verbintenis tot private eiendomsreg en herhaal dat alle nodige hulpbronne aangewend sal word om dié reg te verdedig.
Johann Kotzé, uitvoerende hoof, sê AgriSA bevestig ook opnuut sy verbintenisom die beginsels te handhaaf wat boere en die landbougemeenskap in die algemeen ondersteun.
“Privaat eiendomsregte is die primêre basis waarop die Suid-Afrikaanse landbou gestruktureer is. Oor die afgelope paar jaar is die landbouskuld-tot-BBP-verhouding gemiddeld ongeveer 50%, wat die belangrikheid van grond as kollateraal in die finansiering van produksie beklemtoon.
“Gevolglik hou enige risiko vir die handhawing van hierdie fundamentele regte ernstige implikasies in vir landbouvolhoubaarheid en voedselsekerheid. Daarom is AgriSA daartoe verbind om eiendomswaardes en regte te verdedig en sal ons alle nodige hulpbronne in oorleg met regskundiges aanwend om hierdie beginsels te handhaaf,” sê Kotzé.
Johann Kotzé. Foto: X
AgriSA het ‘n lang geskiedenis van voorspraak vir private eiendomsreg en die uitbreiding daarvan na alle nuwe toetreders.
“Ons doen ’n beroep op die regering om die grond wat vir herverdelingsdoeleindes gekoop is, dringend oor te dra vir verdere landbou-ontwikkeling en sy verbintenis tot betekenisvolle ekonomiese ontwikkeling te demonstreer,” sê Kotzé.
AgriSA het voorheen ‘n onafhanklike ondersoek aangevra na die makro-ekonomiese impakstudie van ’n beleid van grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika.
Grondhervorming moenie ekonomie skaad
“Die GOPA Groep Suid-Afrika se assessering het AgriSA se oortuiging gesteun dat die bevordering van kapitaalvorming verweef is met private eiendomsregte, en gevolglik ’n belangrike voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling, werkskepping en groei is.”
Terwyl AgriSA die behoefte aan transformasie en grondhervorming in die landbousektor ondersteun, word beklemtoon dat dit nie ten koste van die ekonomie en beleggersvertroue moet wees nie, het Kotzé bygevoeg.
Die organisasie bly verbind tot die beskerming van private eiendomsregte en die bevordering van die groei en stabiliteit van Suid-Afrika se landbousektor terwyl voedselsekerheid vir almal verseker word.