Agriculture
Boere in dilemma, selfverdediging nie meer geldige rede vir vuurwapenlisensie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 09 Sep 2025

Suid-Afrika se Vuurwapenwet hou heelwat vereistes en implikasies in, veral vir boere wat dit moeiliker vind om hulself te beskerm.
Die vereistes en wagtydperke ter sprake in die Vuurwapenwet is onderwerpe wat druk bespreek word en dikwels heelwat teenkanting uitlok. “Die prosedure om ’n wapen wettig in Suid-Afrika te besit begin met opleiding deur ’n geakkrediteerde vuurwapeninstansie om sodoende ‘n vaardigheidsertifikaat te verkry,” sê Zane Koeberg, vuurwapeninstrukteur van Bloemfontein.
Ander vereistes is behoorlike kluisfasiliteite en dat jy vir elke vuurwapen wat jy besit, ’n afsonderlike lisensie moet uitneem. Aansoek kan gedoen word by jou naaste polisiekantoor.
“Jy moet ook ‘n SA burger wees, ouer as 21 jaar en met ’n geldige adres; ’n motivering moet ook ingedien word vir elke vuurwapen waarvoor aansoek gedoen word, en jy mag geen misdaadrekord hê nie,” sê Koeberg.
Veral boere word deur ’n uitdaging in die gesig gestaar wat vuurwapens betref. Hul kommer gaan veral oor hul vermoë om hulself te kan beskerm en verdedig in gevalle van geweldsmisdaad.
Daar kan nie alleen op die polisie staatgemaak word vir beskerming nie, omdat daar dikwels nie die noodsaaklike hulpbronne is wat benodig word in noodgevalle nie. Dikwels is die klagte dat daar nie voertuie beskikbaar is om na die voorval uit te gaan nie.
Die verwydering van selfverdediging as moontlike motivering in die aansoek vir ’n lisensie sal ’n besliste impak op landelike beveiliging hê, sê Koeberg. “Plaasaanvalle laat boere onveilig en onbeskermd voel,”
Selfverdediging word nie meer as motivering op vuurwapenlisensie-aansoeke toegelaat nie. Foto: Pexel.com
Wetgewing moet beleid prioritiseer wat plaasveiligheid aanpak, ondersteuning bied en die unieke uitdagings hanteer waarmee boere daagliks te doen het.
Die kwelvraag op almal se lippe is: “Wanneer mag jy skiet”?
“Voordat jy jouself mag verdedig is dit belangrik om te onthou dat die aanval op jou moes begin het of ten minste moes dreig, soos in die geval waar iemand jou perseel betree en die wapen op jou rig, dan mag jy optree en jouself beskerm. Eiendom mag nie beskerm word nie, wel lewens.
“Die toekoms van vuurwapens in Suid-Afrika is bitter onseker, veral ook met die nuwe voorgestelde wysigings aan die wetgewing oor ammunisie en begunstigdes wat wapens moet erf, veral ook die voorgestelde wysigings vir sekerheidsmaatskappye. Die enigste opsie is om die wetgewing in die howe te beveg,” sê Koeberg.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs