On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA-president bring realistiese boodskap van hoop by kongresopening

───   10:46 Wed, 10 Sep 2025

TLU SA-president bring realistiese boodskap van hoop by kongresopening | News Article
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, tydens die organisasie se jaarlikse nasionale kongres in Pretoria. Foto: TLU SA/Facebook

“Vandag wil ek ’n realistiese boodskap van hoop bring – hoop wat gewortel is in ons geskiedenis, ons waardes en ons onwrikbare toewyding aan kommersiële landbou.”

Só het Henry Geldenhuys, president van TLU SA, Donderdag die organisasie se jaarlikse nasionale kongres by die WNNR Konferensiesentrum in Pretoria geopen. Hy het gesê die kongres bied nie net ’n geleentheid vir terugskouing nie, maar veral vir vooruitkyk. 

“Ons kyk na die verlede en die hede, maar ons oë is op die horison – ’n lewende, winsgewende landbousektor wat die hart van Suid-Afrika se ekonomie bly.”

Beleidsdruk en onsekerheid

Geldenhuys het gewaarsku Suid-Afrikaanse boere werk in ’n uiters marginale produksie-omgewing en word daagliks gekonfronteer met beleidsuitdagings. 

“Die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding skep, is net te groot om beleggersvertroue te vestig. Hoe lank nog voor die toepassing daarvan op ons plase?” 

Hy het ook na wetgewing verwys wat volgens hom winsgewendheid bedreig. “Nuwe wette en aanpassings op ou wette ‘reën byna daagliks neer’ op landbou. Tog sien ons dat die staat nie eens sy eie wette nakom nie – kyk maar na die brandwet en die absolute chaos rondom die bestuur van bek-en-klouseer.”

Misdaad en plaasveiligheid

Veiligheid het ’n groot deel van sy toespraak ingeneem. Geldenhuys het beklemtoon dat plaasaanvalle, veediefstal en ander misdade nie net lewens bedreig nie, maar ook die volhoubaarheid van die bedryf.

“Sedert 1990 tot vandag was daar 2 310 plaasmoorde. Plaasaanvalle het ’n hartseer werklikheid geword, dikwels met uiterste geweld, marteling en verminking van slagoffers. 

“Misdaad in ons land is buite beheer, en ons beleef in die verband inderdaad ’n afwesige regering wat nie hul grondwetlike verantwoordelikheid nakom nie.”


Ekonomiese druk en klimaatrisiko’s

Volgens Geldenhuys word boere verder geknyp deur stygende insetkoste, dalende pryse en klimaatsveranderlikheid. 

“Daar is boere wat vanjaar rekordmielie-oes gehad het, maar met swak graad word daardie boer tegnies bankrot. Droogtes, vloede en brande veroorsaak jaarliks reuseverliese.”

Tog het hy die veerkragtigheid van boere uitgelig. 

“Ten spyte van hierdie uitdagings bly ons boere die ruggraat van voedselsekerheid. Ons is ’n netto uitvoerder van voedsel en lewer steeds op die binnelandse mark – dit is ’n bewys van ons innovasie en aanpasbaarheid.”

Rol van TLU SA

Hy het benadruk dat TLU SA se rol gefokus bly op die toekoms. 

“Ons doel is om kommersiële boere veilig en volhoubaar in produksie te hou. Ons fokus nie op die verlede se foute nie, maar op die bou van ’n toekoms waar landbou floreer.”

Jong boere

Geldenhuys het die belang van jong boere onderstreep. “Julle is die toekoms van landbou. Raak betrokke in georganiseerde landbou – dit gee jou ’n stem, nie net ’n kruisie op papier nie, maar ’n stem om te praat oor probleme en oplossings.

“Ons boere het bewys dat hulle wêreldklas is. Met die regte ondersteuning kan ons nie net oorleef nie, maar ook lei in volhoubare landboupraktyke en voedselproduksie. 

“Ons krag lê in ons lede en ons strukture. Julle insette maak ’n verskil.”

OFM Agri ebk/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.