On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Mosselbaaise Ystermankompetisie vir almal met murg in hul pype

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 11 Sep 2025

Mosselbaaise Ystermankompetisie vir almal met murg in hul pype | News Article
Die uitdagende Ystermankompetisie vind binnekort in Mosselbaai plaas. Foto verskaf

Die NWK Ystermankompetisie word binnekort in Mosselbaai gehou. Daar kan aan verskeie dissiplines deelgeneem word en die einddoel is om een miljoen rand vir Agri Securitas in te samel.

NWK, Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy, het ’n unieke fondsinsamelingprojek wat binnekort in Mosselbaai plaasvind, naamlik die Ystermankompetisie. Die doel van die uitdaging is om een miljoen rand vir Agri Securitas in te samel. 

Alf White, NWK se finansiële hoof, dryf die projek en sê die direksie en bestuur van NWK het dit goedgedink om self aan die Ystermankompetisie deel te neem en personeel uit te daag om teen hulle te kompeteer.

”Die deelname van die personeel het ’n tweeledige doel, naamlik die geestelike welstand van personeel en om doelgedrewendheid, dissipline en inspirasie te motiveer en ook om betrokke te raak by en vir die gemeenskap,” sê White.

Die kompetisie bestaan uit drie dissiplines, naamlik 1 900 m swem in die oop see, 90 km fietsry en 21 km draf. Daar is 12 aflosspanne en agt individue wat deelneem; ’n totaal van 43 atlete.

Waarom Agri Securitas?

“NWK is bewus van die uitdagings en nood van produsente en dit is ’n ernstige bekommernis. Agri Securitas poog daagliks om ’n veilige omgewing te skep en as gevestigde struktuur en kan hulle met gerustheid ondersteun word. 

“Die geld wat ingesamel word, sal direk aangewend word om landelike gemeenskappe te beveilig, dit is belangrik vir volhoubaarheid en voedselproduksie,” sê White.

Hoe raak jy betrokke?

Besighede en individue wat belangstel om betrokke te raak, kan NWK kontak via e-pos by nwk@nwk.co.za, of info@nwk.co.za. Inligting kan ook verkry word by givengain.com onder die kategorie “Ysters vir Landbou”.

Daar is ook ’n inisiatief by alle handelstakke van NWK om vyf rand by jou transaksie te voeg ten bate van Agri Securitas.

Lusmaker aangebied op 12 September

NWK hou op Vrydag, 12 September 2025 ’n aflos-uitdaging vir besighede as ’n bykomende fondsinsamelingsgeleentheid in die vorm van ’n aflos-uitdaging vir besighede. Sake-ondernemings kan mans-, vroue- of gemengde aflosspanne inskryf. Hulle moet aan drie dissiplines deelneem – roei, fietsry en hardloop op masjiene – vir 10 minute elk. Die spanne wat die verste afstande in die onderskeie kategorieë aanteken, wen!

Inskrywingsfooiebeloop R1 000 per span en die uitdaging sal van 09:00 tot 15:00 plaasvind. Wenspanne sal wegstap met 'n pragtige trofee en sal die komende Maandag by kollegas kan spog met hul prestasie.

OFM-omroeper Shandor Potgieter, self ’n ywerige Ysterman-deelnemer, sal as seremoniemeester van die aflos-uitdaging optree.



September is braaimaand en daar sal heerlike hamburgers en worsbroodjies deur NWK4Sure te koop wees. Hulle sal ook pannekoek vir die soettande bak en te koop aanbied. Alle opbrengste sal tot die Ysterman-iniatief ten bate van Agri Securitas gaan.

Diegene wat kontantskenkings maak op die dag, kan aan OFM se “spin the wheel” deelneem en pryse wen. Kontantskenkings van R50 of meer kwalifiseer vir gelukkige trekkings wat opwindende pryse deur NWK se onderskeie departemente insluit, soos die installering en opstel van 'n weerstasie deur AgTech@NWK; koopbewyse vir enige drukwerk deur Creations@NWK; koopbewyse vir smullekker etes by BlackSteer; 150 kg kunsmis vir jou tuin; karwasse by Lichtenburg Total Energies; koopbewyse by Mogaladi Fuel, Econobuild, en meer.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.