Agriculture
Pluimvee is alternatief vir volhoubaarheid op plaas─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 17 Sep 2025

Ekstra vertakkings op die plaas word dikwels oorweeg om volhoubaarheid en diversiteit te bevorder. Een daarvan is pluimvee of eksotiese voëls.
“As ’n mens eers vere in jou bloed het raak jy nie maklik van die liefde ontslae nie,” sê Lukas van Niekerk, voorsitter van die pluimveeklub in Bloemfontein.
Die klub is ’n lewendige sentrum vir pluimvee-entoesiaste met meer as honderd lede, wat bestaan uit passievolle telers en stokperdjieboere van oor die streek heen. Dit bied geleenthede vir leer, samewerking en deelname aan mededingende uitstallings.
Drie jaarlikse geleenthede word aangebied: die Pluimveeskou tydens Bloemskou, die Bloemfonteinse Pluimveeklubskou en die Nasionale Kampioenskapskou. Alle voëls word beoordeel volgens die Suid-Afrikaanse Skoupluimvee-organisasie se rasstandaarde.
“Daar is definitief geleentheid om ’n goeie alternatiewe inkomste te verkry met pluimvee, veral hoenders. Enige eksotiese kleure of andersheid aan ’n hoender beteken ’n goeie prys soos enige stoetdier wat uitsonderlik is.”
Die Bloemfontein Pluimveeklub vier die liefde van pluimvee. Foto verskaf
Die belangrikste stap om te doen voordat met pluimvee of enige ander eksotiese voëls geboer word is goeie navorsing. Dis goeie raad om nie te lank te bly sukkel met ’n idee om sekere kleure te teel nie, beweeg aan en dink ’n ander plan uit om uitsonderlike kleure of rasse te teel, sê hy.
Die Bloemfonteinse Pluimveeklub is die ideale plek om jou liefde vir pluimvee te laat groei, te leer en die beste rasgehalte ten toon te stel, vir ervare of beginner-boere.
Belangstellendes kan die klub kontak by bloem.pluimvee@gmail.com
OFM Agri/Isabel van Tonder dg