Agriculture
Optimisme oor 2025 graanproduksieseisoen ondanks druk op pryse en insetkoste─── 10:04 Wed, 17 Sep 2025

Die 2024/2025-produksieseisoen vir somergrane en oliesade in Suid-Afrika het wankelrig begin, maar het uiteindelik positiewe uitkomste gelewer danksy volgehoue reën.
Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het die seisoen sowat ses weke later as normaal begin weens vertraagde reënbuie aan die einde van 2023. “Ons is nou besig om ’n seisoen af te sluit wat redelik laat begin het.
“Dit was laat met sowat ’n maand en ’n half, hoofsaaklik vanweë die laat reëns aan die begin van die seisoen, maar ook omdat dit deurgaans aangehou het.” Die ongewone reënval het selfs tot in April aangehou, ’n maand langer as normaal.
“In ’n gewone seisoen sou die reën teen Maart begin afneem, wat ’n droër periode voor die oestyd gee. Hierdie jaar het die reën egter langer aangehou, en dit verduidelik waarom daar steeds goeie lewerings van graan by kommersiële silo’s is.”
Hoewel die laat seisoen sekere uitdagings geskep het, glo hy nie dit sal ’n negatiewe impak op die nuwe seisoen hê nie. Hy het beklemtoon die 2025-produksieseisoen, wat middel Oktober in die ooste en middel November in die weste begin, gunstige vooruitsigte het.
“Wanneer ek kyk na die weervooruitsigte, lyk dit vir ons asof ons gelukkig mag wees en die reën op ’n toepaslike tyd mag kry. Die weervooruitsigte in die algemeen is ook bemoedigend. Dit lyk of ons ’n matig reënerige somerseisoen sal hê.”
Why is South Africa importing yellow maize at a time of abundant domestic harvest?https://t.co/XNDxbJuwNI
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) September 17, 2025
Sihlobo het ook verwys na die moontlikheid van ’n ligte La Niña.
“Daar is vooruitskattings wat praat van ’n moontlikheid van ’n La Niña, maar nie ’n sterk een nie. Onthou, ’n La Niña in Suid-Afrika bring tipies bo-normale reënval, terwyl ’n El Niño die teenoorgestelde effek het.”
Hy het bygevoeg die Suid-Afrikaanse Weerdiens se jongste klimaatverslag aan die einde van verlede maand ’n nat somer voorspel het, wat goeie nuus vir graan- en oliesadeprodusente is.
Verder wys Sihlobo daarop dat die landbou nie net by grane baat by goeie somerreën nie.
Uitdagings lê ook voor
“Onthou, wanneer ons aan Suid-Afrika se vrugte en groente dink, word dit hoofsaaklik onder besproeiing verbou. Maar vir somergrane en oliesade is slegs tussen 10% en 15% onder besproeiing. Die res is reëngevoer.
“Reënval word dus uiters belangrik. Dit help ook die veeboere omdat goeie weiding landswyd beskikbaar is.”
Tog lê uitdagings voor. Laer graanpryse plaas druk op boere se winsgewendheid en stygende insetkoste bly ’n bekommernis.
Next month, October 2025, we will start our 2025-26 maize and soybean production season in South Africa. Other crops will be later in the year.https://t.co/Dd5StC7YsL
— Wandile Sihlobo (@WandileSihlobo) September 16, 2025
“Daar sal altyd die bekommernis wees oor winsgewendheid. Boere sal noukeurig na kunsmis- en chemikaliepryse kyk.”
Nietemin bly die sentiment positief. “As mens na die trekker- en masjinerieverkope kyk, was dit redelik sterk. Jy kan dit lees as ’n aanduiding dat ons van ’n goeie seisoen af kom, of as ’n teken dat produsente optimisties is oor die komende seisoen.”
Volgens hom gee hierdie faktore saam ’n oorwegend hoopvolle prentjie. “Oor die geheel handhaaf ons ’n optimistiese siening oor die komende seisoen.”
OFM Agri ebk/mvh