Agriculture
Vrystaat Landbou vra minister moet plaasmoorde, -aanvalle afsonderlik verklaar─── ISABEL VAN TONDER 12:00 Mon, 22 Sep 2025

Vrystaat Landbou doen ’n beroep op die minister van polisie om plaasaanvalle en -moorde, soos omskryf in die Landelike Beveiligingstrategie, met die bekendmaking van misdaadsyfers afsonderlik aan te toon.
Terselfdertyd moet alle ernstige geweldsmisdade wat huishoudings in landelike gebiede raak – soos moorde en pogings tot moord – ook volledig weerspieël word, sê VL in sy dringende beroep aan die minister. Dit blyk dat die ware omvang van hierdie misdade nie duidelik uit die statistieke na vore kom nie.
Dié reaksie volg op die waarnemende minister van polisie, prof. Firoz Cachalia, se onlangse opmerking dat “boere nie sistemies deur misdaad geteiken word nie”.
VL sê in ’n verklaring hy veroordeel al dekades lank alle vorme van ernstige geweldsmisdaad in die landelike gebiede, hetsy plaasmoord, moord in die algemeen, poging tot moord, gewapende roof of ernstige aanrandings.
Ingrypende invloed op boere
Hierdie misdade het ’n ingrypende invloed op boere, hul gesinne en werkers, sowel as op die volhoubaarheid van hul boerderypraktyke. Dit raak nie net kommersiële boere nie, ook opkomende en bestaansboere. Dit veroorsaak geweldige trauma in huishoudings.
Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, wys uit volgens StatsSA se Landbou-misdaadopname van 2022 woon 16,06% van die huishoudings in die land in die Vrystaat. Dit is 135 748 huishoudings, en slegs 10,43% hiervan verdien hul inkomste primêr uit boerdery. Dit is slegs 1,68% van die totale 845 250 huishoudings in die provinsie.
“In die 2024/25-boekjaar is 895 moorde in die Vrystaat aangemeld. As plaasmoorde volgens die amptelike definisie apart uitgewys word, toon dit nie al die moorde op landbougrond word korrek weerspieël nie.” Dit blyk hieruit landelike huishoudings word waarskynlik meer intensief deur misdadigers geteiken, sê Buys.
VL beklemtoon dat ernstige geweldsmisdaad boere en landelike huishoudings wesenlik bedreig.
Nog ’n ernstige bekommernis is dat misdadigers dikwels by sowel geweld- as eiendomsverwante misdaad betrokke is. Sowat 90% van misdade verskyn nie in die minister se misdaadstatistieke nie. StatsSA wys byvoorbeeld daarop slegs 10% van veediefstalgevalle word by die polisie aangemeld.
VL meen verder boerderygemeenskappe ervaar talle uitdagings wat die polisiediens betref, soos ’n gebrek aan werkende voertuie en dat misdadigers gereeld in georganiseerde groepe en sindikate saamwerk waarin polisie-korrupsie ’n rol speel. Die feit dat dié gemeenskappe voortdurend geteiken word, bedreig ook die oorlewing en finansiële volhoubaarheid van boere.
VL versoek gevolglik die minister om:
- die Nasionale Landelike Beveiligingstrategie ten volle te implementeer, en dat elke landelike of stedelike polisiekantoor oor minstens een tot twee toegewyde landelike veiligheidskoördineerders beskik met ’n duidelike mandaat asook toegewysde voertuig en toepaslike toerusting;
- 104 voertuie vir hierdie koöordineerders beskikbaar te stel; en
- ernstige tekorte by die veediefstaleenhede wat sowel mannekrag as voertuie betref dringend die hoof te bied.
“Boere word wel sistematies geteiken en die SAPD se onvermoë om hul grondwetlike mandaat uit te voer, plaas landelike gemeenskappe onder geweldige druk. VL eis daarom daadwerklike optrede en aanspreeklikheid om ons boere, hul gesinne en werkers te beskerm,” sê Francois Wilken, president van VL.
OFM Agri cvs