Agriculture
Steenhuisen prys SA bloubessiebedryf op wêreldberaad─── 09:00 Fri, 26 Sep 2025

Die minister van landbou, John Steenhuisen, het die wêreld se bessiebelangegroepe in Kaapstad toegespreek op die Internasionale Bloubessievereniging (IBO) se jaarlikse beraad – die eerste keer dat dié byeenkoms in Afrika aangebied word.
“Ek wil my waardering uitspreek teenoor die IBO en die bedryfsvennote dat hulle hierdie geleentheid vir die eerste keer na Afrika gebring het. Hierdie mylpaal is nie ’n klein prestasie nie – dit sê baie oor hoe ver die bessiesektor in Suid-Afrika, en veral ons bloubessiebedryf, in ’n baie kort tydperk gekom het.”
Steenhuisen het die wêreld se leiers in genetika, tegnologie en markontwikkeling geloof en benadruk dat Suid-Afrikaanse produsente met die beste variëteite boer. Die land het reeds ’n wêreldreputasie vir sitrus, druiwe, appels en pere opgebou en bloubessies staan nou uit as een van die land se grootste uitvoer-suksesstories.
“Produksie het van minder as 3 000 ton in 2018 tot meer as 21 000 ton in 2022 gegroei. Hoewel swart ryp en klimaatsuitdagings vanjaar groot verliese veroorsaak het, het die uitvoer steeds met 7% gestyg tot meer as 22 500 ton.”
Steenhuisen meen die bedryf is ook ’n pilaar vir plattelandse werkverskaffing. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het bloubessies die hoogste arbeidsabsorpsiefaktor per hektaar in Suid-Afrika.
“Dis meer as vier poste per hektaar. Dit beteken duisende gesinne in sommige van ons mees kwesbare landelike gebiede is nou afhanklik van die bessiewaardeketting vir hul lewensbestaan, hul menswaardigheid en hul hoop.”
Winsgewendheid bly egter onder druk weens hoë insetkoste, wisselvallige valuta en logistieke ontwrigting. Daarom is kultivarkeuse, mark-tydsberekening en gehaltebestuur deurslaggewend. Hy het die vennootskap tussen die departement en Berries South Africa geprys wat nuwe uitvoermarkte oopmaak.
“Protokolle is reeds gefinaliseer of naby afgehandel in Indië, Israel en Viëtnam, terwyl onderhandelinge met Thailand en Suid-Korea voortgaan.”
Steenhuisen het verder bevestig dat China tans risiko-assesserings doen vir kersies en bloubessies. “Ek sal later vandeesmaand na China reis om ’n steenvrug-protokol af te handel en ons hoop om daardie protokol in ons hande terug te bring na Suid-Afrika, vir sowel bloubessies as kersies.”
Die VSA, EU, China, die VK en Kanada was saam verantwoordelik vir 90% van die varsbloubessie-verbruik in 2023 en Afrika bied ook groot geleenthede. “Afrika se stede groei vinniger as in enige ander plek ter wêreld. En daardie groei bring ’n reuse-geleentheid en ’n groot aanvraag vir vars produkte van hoë gehalte.”
OFM Agri cvs