On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Waterbuffels bring unieke melkery na Babylonstoren

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 29 Sep 2025

Waterbuffels bring unieke melkery na Babylonstoren | News Article
Waterbuffels en waterbuffelmelk is deel van Babylonstoren se boerdery. Foto verskaf

Waterbuffelmelk en ’n boerdery met waterbuffels is ’n unieke uitdaging wat ’n mens op Babylonstoren in die Boland kan aantref.

Waterbuffels is nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar dié besonderse diere kan op Babylonstoren besigtig word, waar hulle en hul melk deel vorm van ’n unieke boerdery. Babylonstoren, reeds bekend vir produkte soos kwarteleiers, eendeiers, rooibostee en olyfolie, kan nou ook spog met waterbuffelmelk.

“Min mense kan sê dat hulle ’n waterbuffelmelkery het, en tot dusver het ons nog nét goeie terugvoer gekry. Ons het tans sowat 300 buffels op die plaas, waarvan 65 buffelkoeie daagliks gemelk word,” sê Kobus Lambrechts van Rietvlei, sustersplaas van Babylonstoren. 


“Ons melk net een keer per dag, maar die melk is van uitstekende gehalte, want ons verkies kwaliteit bo kwantiteit.” 

Waterbuffelmelk is ryker aan vet en proteïen as koeimelk, wat dit ’n voller, romerige tekstuur gee. Dit is ideaal vir kaas, jogurt en roomys, en is boonop ryk aan kalsium, magnesium en fosfor. 

Omdat dit laer in laktose is, is dit vir baie mense makliker verteerbaar. Nog ’n voordeel is dat waterbuffelkoeie ’n langer laktasieperiode het en tot op ouer ouderdom produktief bly.

Waterbuffelmelk het baie goeie gesondheidswaarde. Foto verskaf

Volgens Lambrechts is die haloumi, mozzarella en gelato (Italiaanse roomys) van Babylonstoren se uitstaande produkte. “Die gelato het elke maand ’n geur volgens die seisoen. Die bloedlemoen-gelato is my gunsteling,” sê Lambrechts.

Die melkstal vir die waterbuffelkoeie moes spesiaal versterk word met staalpype, omdat die buffels groot diere is wat tussen 650 en 750 kg kan weeg. Hulle horings word nie verwyder nie, en dit verg ingenieursvernuf om die stal veilig en stewig te hou. 

Daar word ook klassieke musiek in die melkstal gespeel, wat ’n dubbeldoel dien: dit kalmeer die koeie en vermaak terselfdertyd die werkers. Verder is spesiale elektroniese krapborsels aangebring waarteen die buffels heeldag kan skuur. 

'n Trop van Babylonstoren se waterbuffels. Foto verskaf 

“Hulle kan nie self agter hul ore krap nie, en geniet dit geweldig,” verduidelik Lambrechts. 

Elke buffel kry ook ’n naam en reageer daarop. Toeriste kry selfs die geleentheid om name vir die nuwe kalfies te kies.

Lambrechts boer al 16 jaar met waterbuffels en sê dit is sy groot passie. “Ek geniet dit elke dag – veral omdat húlle dikwels my dag beplan!”

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.