Agriculture
Naspeurbaarheid van vee oplossing vir veediefstal─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 01 Oct 2025

Naspeurbaarheid van vee word al hoe belangriker én dis makliker met die nuwe Agri Facial Recognition-stelsel. Vee se snoetafdrukke is net so betroubaar soos menslike vingerafdrukke!
Gesigherkenning is lank reeds deel van sekuriteit en die tegnologiese wêreld, maar vind ook nou toenemend sy plek in landbou. Hierdie vooruitstrewende tegnologie bied nuwe maniere om produktiwiteit te verbeter, bestuur te vergemaklik en sekuriteit op plase te versterk.
Boere is dikwels kwesbaar vir misdaad soos veediefstal en die gevalle word daagliks meer. Gesigherkenning kan die oplossing vir veediefstal wees waarna daar al lank gesoek word.
Die Agri Facial Recognition-stelsel neem 10 foto’s van jou vee se neusafdruk waarna die foto’s in ’n veilige databasis gestoor word in die geval van veediefstal. Omdat elke bees en skaap se snoetafdruk, net soos die mens se vingerafdrukke, uniek is – is dit die ideale manier om naspeurbaarheid te verhoog.
Spesiale sagteware
“Digitale sagteware, wat spesifiek gerig is op biometriese opsporing, is ’n absolute noodsaaklikheid vir elke boer. Die stelsel word in Suid-Afrikaanse howe en deur die regstelsel erken.
“Hierdie inligting kan as bykomende bewyse by enige hof ingedien word; elke bees se snoetafdruk is uniek en bly dieselfde, vanaf geboorte totdat die bees doodgaan. Net soos die mens se vingerafdruk uniek is, so is die bees se neusafdruk uniek en verander nooit,” sê Naas Botes, lid van die Vrystaatse Veediefstaleenheid.
Eienaarskap en identifikasie kan bepaal word sonder enige brandmerke of tatoeëring.
Die Agri Facial Recognition-stelsel verhoog naspeurbaarheid verhoog. Foto verskaf
Die stelsel is betroubaar, goedkoop, maklik om te gebruik en beskikbaar vir elke veeboer. In die geval van veediefstal word daar onmiddellik ’n Bolo-boodskap (Be on the lookout) uitgestuur na alle landbougroepe en rolspelers en word daar onmiddellik na beeste gesoek.
Sou gesteelde vee teruggevind word en die beeste is op dié stelsel geregistreer word, word boere dadelik in kennis gestel. Dit bemagtig boere met proaktiewe maatreëls om veediefstal te bestry en vergemaklik oorgrensondersoeke.
Kontak Naas Botes by 0832735350, óf besoek www.agrifacialsa.co.za of hulle Facebookblad vir meer inligting.