Agriculture
Veediefstalforum in Vrystaat bespreek brandpunte─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 01 Oct 2025

Die kwartaallikse vergadering van die Vrystaatse provinsiale strategiese veediefstalforum het onlangs plaasgevind en brandende kwessies is bespreek.
Die forum ontleen sy provinsiale mandaat ter bestryding van veediefstal en misdade met betrekking tot bedreigde spesies aan ’n SAPD-instruksie,” sê die veediefstalkenner Isabel Kruger, veiligheidsverteenwoordiger en ondervoorsitter van die provinsiale veediefstalforum.
Die forum is die produk van ’n samewerkingsinisiatief tussen die staat en die gemeenskap om die vermoë van die SAPD, sleutelrolspelers en private inisiatief in die domein van georganiseerdelandbou- en veediefstal-inligtingsentrums (VIS) saam te snoer.
“Die forum ag dit belangrik dat produsente meer inspraak in ondersoeke en suksesvolle vervolgings kry deur middel van inligtingsentrums en maandelikse vergaderings met die SAPD,” sê Kruger.
“Die forum benadruk ook dat produsente, polisiebeamptes en staatsaanklaers deur dié vergaderings met mekaar skakel om beter kommunikasie en samewerking te bevorder.”
Die uitdagings van die forum is gesprekvoering met die nodige provinsiale regeringstrukture in verband met die Lesotho-grensgebied, rondloperdiere en veral die versuim van munisipale owerhede.
Gesprekke met plaaslike owerhede oor die oorbenutting van meentgrond asook die afwesigheid van omheinings en skutgeriewe is op die sakelys vir hantering. Die forum beklemtoon dat munisipale regerings aanspreeklik gehou kan word vir skade wat uit hul versuim voortspruit.
Die forum doen ’n dringende beroep op alle vee-eienaars en openbare rolspelers om betrokke te raak by die aktiewe bestryding van die bek-en-klouseer in die provinsie.
“Die verskil begin by elkeen se eie boerdery en hoe jy maatreëls toepas. Veeboerdery is een van die strategiese drywers van die Vrystaatse ekonomie en die verspreiding van dié siekte kan nie alleen veeprodusente nie, maar ook die Vrystaat se ekonomie knou,” sê Kruger.
OFM Agri cvs