On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Oesskatting voorspel genoeg druiwe, goeie gehalte

───   ISABEL VAN TONDER 11:38 Thu, 02 Oct 2025

Oesskatting voorspel genoeg druiwe, goeie gehalte | News Article
Suid-Afrika kan genoeg tafeldruiwe van gehalte voorsien, volgens die jongste oesskatting. Foto: Pexel.com

Volgens die eerste oesberaming vir die 2025/26-seisoen voorsien die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf ’n oes van hoë gehalte en volume.

Dit sal na verwagting die hele seisoen in die markvraag kan voorsien. Die volume wat vir uitvoer geïnspekteer word vir die 2025/26-seisoen, sal na verwagting met ongeveer 0,6% toeneem vergeleke met die werklik geïnspekteerde volume van die 2024/25-seisoen. 

Hierdie oesskatting plaas Suid-Afrika in ’n goeie posisie om ’n betroubare toevoer aan die wêreldmarkte te handhaaf.

’n Nasionale beraming van 79,4 miljoen kartonne, van ongeveer 4,5 kg elk, word verwag. Die boonste perk is ongeveer 81,7 miljoen kartonne en die onderste sowat 77 miljoen.

Die oesskattings  vir tafeldruiwe lyk baie gunstig vir die 1025/26 seisoen. Foto: Pexel.com

“Goeie wintertoestande het voorgekom met genoeg koue wat ideale toestande geskep het, voldoende winterreënval wat damvlakke gunstig verhoog het en sodoende ook genoeg waterbeskikbaarheid soos in ’n normale seisoen verseker het,” sê Alwyn Dippenaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati).

Die totale aanplantings in die Oranjerivier- en Hexrivierstreek strook steeds met die vyf-jaar-gemiddeld. 

Groei en stabilisering

Algehele matige groei in volume, teenoor die vyf-jaar-gemiddeld, dui op die stabilisering van die totale aangeplante tafeldruifhektare.

Hoewel daar ’n effense afname van 0,4% vergeleke met 2024 is, wat die totaal vanjaar op 19 400 ha te staan bring, verteenwoordig dit stabilisering teen net 3% onder die vyf-jaar-gemiddeld.

“Suid-Afrika is goed geposisioneer om ’n konsekwente, gehalteoes te lewer wat aan wêreldverbruikers se voorkeure voldoen,” sê Mecia Petersen, uitvoerende hoof van Sati.

OFM Agri cvs

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.