Agriculture
NAMPO Alfa 2025 toon beste van SA veebedryf─── 10:52 Fri, 03 Oct 2025
Sponsored10:52 Fri, 03 Oct 2025
Die tafel is gedek vir ’n fees van die veebedryf met die 2025 NAMPO Alfa-ekspo wat 16 tot 18 Oktober op NAMPO Park buite Bothaville plaasvind.
Hoewel die uitbreking van bek-en-klouseer steeds een van die groot uitdagings vir die Suid-Afrikaanse veesektor is, verhinder dit nie die organiseerders om vanjaar ’n program met ’n verskeidenheid hoogtepunte aan te bied nie.
Volgens Albert Loubser, organiseerder van die lewendehawe-afdeling, word die siektekrisis ook toenemend gebruik as ’n geleentheid om telers prakties te wys hoe biosekerheidsmaatreëls toegepas behoort te word.
“Ons moes oplossings kry, anders sou sulke geleenthede eenvoudig nie meer kon voortgaan nie. Die protokolle wat ons nou volg, word streng toegepas en gemonitor, sodat die risiko’s sover moontlik bestuur word. Vir telers is dit ’n opleidingsgeleentheid om die beginsels terug te neem na hul eie plase.”
Een van die groot trekpleisters is die Lamb Champs-eindronde, waarin wenners van die streekkompetisies in Kimberley, Parys, op Loftus en in die Boland meeding om die nasionale titel. Hierdie kompetisie bring produsente en verbruikers nader aan mekaar.
“Op die ou einde gaan boerdery oor die feit dat dit wat ons produseer aan verbruikers verkoop word. As verbruikers nie tevrede is met wat hulle kry nie, of nie bereid is om daarvoor te betaal nie, beteken ons harde werk baie min. Lamb Champs bring daardie skakel direk na vore.”
Die Old Mutual- Nasionale Interras-kampioenskap is ’n gevestigde hoogtepunt by NAMPO Alfa en word sedert 2016 aangebied. Hier kry telers wat by die tien grootste skoue in die land as kampioene uitgestyg het, die kans om teen mekaar mee te ding.
Loubser meen hierdie tradisie is so oud soos Suid-Afrikaanse landbou self, en die nasionale kampioenskap is ’n vertoonvenster van genetika. “Die veesektor is een van die fondasiestene van ons vleiswaardeketting. Boere bring al vir meer as 150 jaar hul topdiere na landbouskoue. Vanjaar se diere is van uitsonderlike gehalte en gaan beslis die bedryf se vooruitgang wys.”
Die wenners word op die tradisionele galadinee die Vrydagaand aan die publiek bekend gestel.
Nog ’n nuwe toevoeging is die Laeveld Agrochem Farm Skills- Nasionale Kampioenskap, wat vanjaar vir die eerste keer by NAMPO Alfa plaasvind. Sewe provinsies se landbouskole neem deel, en sowat 200 leerders en 20 onderwysers word verwag.
“Landbouskole het nog altyd ’n prominente plek by Alfa gehad, maar hierdie jaar kry hulle ’n heel nuwe vlak van sigbaarheid. Dit is ’n welverdiende plek vir die jeug in die veebedryf.”
Benewens hierdie kampioenskappe huisves NAMPO Alfa ook die Suid-Afrikaanse Varkprodusenteorganisasie se Spek-gesprek en die Landbouweekblad-vee-akademie, ’n konferensie oor die nie-konvensionele waardeketting in die veebedryf met talle spesialisgesprekke. Uitstallers en telersverenigings kry die geleentheid om hul diere, tegnologie en nuwe praktyke aan die groter bedryf te wys.
Loubser sê voorts ondanks die uitdagings wat die landbousektor die afgelope dekade getref het, groei NAMPO Alfa steeds. “Ons is baie trots daarop dat ons elke jaar nog meer uitstallers en groter bywoning sien. Dit wys die momentum is daar, en dit gee hoop vir die toekoms.”