Agriculture
Staatsveearts speel groot rol in openbare en dieregesondheid─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 06 Oct 2025

Dikwels word in gesprekke na die staatsveearts verwys, maar die groot rol wat hierdie instansie speel in die gesondheid van diere en die breë publiek word dikwels onderskat.
Die staatsveeartsdiens, dalk ’n voorbeeld van onbekend maak onbemind, in Suid-Afrika val onder die nasionale departement van landbou se veeartsenykundige dienste. Die drie hoofvertakkings is dieregesondheid en siektebeheer; openbare gesondheid en internasionale handel; en laboratoriumdienste en epidemiologie.
“Dieregesondheid se hoofdoel is om ’n gesonde dierebevolking te verseker deur siektebeheer en voorkoming. Siektebeheer sluit dan ook kwarantynmaatreëls in,” sê dr. Hanri Bester Cloete, waarnemende staatsveearts in Bloemfontein.
“Ons registreer ook brandmerke, reik uit na gemeenskappe met inligtingsdae en hanteer ook primêre dieregesondheid soos inentingsveldtogte.”
Die staatsveearts hanteer die registrasie van buffelplase en die beheer van buffelbeweging in die provinsie of tussen provinsies in Suid-Afrika.
Die diens hou ook toesig oor naspeurbaarheid en bioveiligheid en ontwikkel protokolle en werksaamhede saam met provinsiale en private veeartse.
Die afdeling openbare gesondheid en handel sien toe dat die Wet op Vleisveiligheid toegepas word (wet 40 van 2000) en verseker so vleis wat die publiek aankoop, veilig is. Hierdie afdeling doen ook inspeksies by abattoirs en voedselverwerkingsaanlegte.
Die staatsveearts bring besoeke aan abbatoirs en verwerkingsaanlegte om voedselveiligheid te verseker. Foto: Pexel.com
Die staatsveearts aanvaar voorts verantwoordelikheid om seker te maak dat in- en uitvoer en geriewe aan die wetlike vereistes voldoen.
Residu en mikrobiese monitering in slagpale is ook ’n belangrike plig van dié diens en ook die inspeksie van wildslagpale, leerlooierye en taksidermie-instellings.
Die diagnostiese laboratoriums is aan die stuur van navorsingsprojekte en monitor siekte-uitbrekings. Die Vrystaat het twee laboratoriums wat hiervoor verantwoordelik is, in Bloemfontein en op Kroonstad.
Dienste vir boere
Boere kan gerus van die dienste gebruik maak, veral in die geval van postmortems, aborsies in plaasdiere, en enige vermeende gevalle van hondsdolheid asook bek-en-klouseer.
Die staatsveearts speel ’n belangrike rol in die provinsie se ekonomie en het ’n kernrol in landbou, wêreldhandel en openbare gesondheid.
Dit is belangrik dat die breër gemeenskap hiervan bewus moet wees.
OFM Agri cvs
Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.