On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

NAMPO Alfa 2025: Interaktiewe belewenis vir jonk en oud

───   12:02 Fri, 03 Oct 2025

Sponsored12:02 Fri, 03 Oct 2025
NAMPO Alfa 2025: Interaktiewe belewenis vir jonk en oud | News Article
By NAMPO Alfa kan toerusting eers self getoets word voor jy dit aankoop. Foto: NAMPO Alfa/Facebook

Die NAMPO Alfa lewendehawe-jag-en-buitelug-ekspo vind van 16 tot 18 Oktober op NAMPO Park buite Bothaville plaas en beloof om vanjaar groter, beter en meer interaktief as ooit tevore te wees.

Bennie Zaayman, bestuurder van NAMPO Park, vertel voorbereidings is reeds in volle swang. “Ons terreinbestuurspan is buite besig om water te gooi, lyne te verf en alles reg te kry vir die uitstallers.” 

Meer as 240 uitstallers gaan hierdie jaar deel wees – ’n wye verskeidenheid wat strek van jag- en buiteleweprodukte tot die veesektor. “By Alfa gaan dit nie net oor kyk nie, maar oor beleef. 

“Jy kan wapens op die skietbaan uittoets, in voertuie klim vir toetsritte en selfs ander produkte eerstehands ervaar. Dit maak dit uniek teenoor ander ekspo’s.”

Alles-in-een-gesinservaring

Besoekers by NAMPO Park kan ’n ekspo verwag waar landbou, avontuur en gesinsvermaak hand aan hand loop. Met die kombinasie van jag, buitelewe, topdiere en gesinsvriendelike aktiwiteite, posisioneer Alfa hom as ’n ekspo waar almal iets kan vind. 

“Ons wou Alfa ’n ander geur gee – dit gaan oor meelewing en aktiewe deelname” sê Zaayman.

Die 2025-program bring verskeie nuwe toevoegings. Skietkompetisies is ’n groot trekpleister: liggeweerskiet vir skole, mini-airsoft vir jong kinders en kleiduif- en spoedpistool-skiet vir volwassenes. 

Skole wat die meeste ondersteuners bring, kan kontantpryse wen.

’n Nuwe hoogtepunt is die trekkerboeresport waar plaasvaardighede soos ploeg hak en trekkerbestuur in spasie getoets word. Daarby kom die Agri Skills Challenge, ’n nasionale kompetisie waarin landbouskole uit verskillende provinsies hul vaardighede meet. 

Bothaville Hoërskool dra ook by tot die feestelike atmosfeer met hul eie Oktoberfest op die Vrydagaand.

Fokus op topdiere

Vir dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, lê die groot aantrekkingskrag van Alfa in die veekomponent. 

“Die interraskompetisie is ’n hoogtepunt waar van die beste diere in die land vertoon word. Dit is ’n ongelooflike geleentheid vir die veesektor om sy beste aan die land en buitewêreld te wys.”

Hy beklemtoon NAMPO Alfa ondersteun ook doelbewus die plaaslike ekonomie. Plaaslike skole en kerke kry die kans om kosstalletjies te bedryf en besoekers stroom na Bothaville se gastehuise en omliggende ondernemings. 

Praktiese ervarings

“Dit is altyd ’n goeie inspuiting vir die plattelandse ekonomie.”

Strydom sien NAMPO Alfa as ’n waardevolle uitbreiding van die groter NAMPO-handelsmerk. “NAMPO as hoofekspo is baie groot en gestruktureerd, wat sekere beperkings meebring. 

Alfa gee vir ons die vryheid om praktiese ervarings te skep – of dit nou wapens op die skietbaan is of voertuie wat besoekers self kan bestuur. Dis ’n praktiese belewenis wat ons nie altyd by die groter NAMPO kan insluit nie.”

OFM is die trotse mediaborg van NAMPO Alfa. Lees meer oor die ekspo hier.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.