Agriculture
Nóg gevalle van bek-en-klouseer in Vrystaat─── ISABEL VAN TONDER 13:49 Fri, 03 Oct 2025

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling het ses afsonderlike uitbrekingsgebiede geïdentifiseer oor vyf plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat.
Daar is tans 38 bevestigde gevalle van bek-en-klouseer. Die departement het die inenting van beeste in die betrokke gebiede as ’n prioriteit gestel en bykomende entstowwe is bekom.
Bewegingsbeperkings is ingestel op alle plase binne ’n 10 kilometer radius van die besmette gebiede om verdere verspreiding te voorkom.
Gevalle per munisipaliteit
- Kroonstad: 10 gevalle
- Viljoenskroon: 17 gevalle
- Deneysville: 1 geval
- Cornelia/Frankfort:7 gevalle
- Heilbron: 2 gevalle
- Odendaalsrus: 1 geval
Daar is tans 38 gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat. Foto: Pexels.com
In ooreenstemming met Staatskoerant Nr. 51512 van 13 Junie 2025 en die Dieresiektewet (Wet 35 van 1984) doen die departement ’n beroep op alle boere, afslaers en spekulante om die beweging van gehoefde diere te beperk, streng biosekuriteitsmaatreëls te volg, enige nuwe vee vir 28 dae te isoleer, akkurate rekordhouding te hou en enige verdagte gevalle onmiddellik aan die staatsveearts te rapporteer.
Die departement van landbou en landelike ontwikkeling herinner boere ook daaraan dat die beweging van diere onder kwarantyn sonder die nodige dokumentasie ’n kriminele oortreding is. Die departement vra vir volle samewerking van die veebedryf om die siekte en verspreiding te beperk en ook om enige verdagte gevalle aan te meld.