On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
Show Background
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Produksieskatting vir 2025 somergewasse dui op toename in mielie-oes

───   ISABEL VAN TONDER 15:33 Sat, 04 Oct 2025

Produksieskatting vir 2025 somergewasse dui op toename in mielie-oes | News Article
Produksieskatting van mielies dui op 'n toename in opbrengs. Foto: Pexel

Die Oesskattingskomitee het onlangs hul produksieskatting vir die 2025 somergewasse uitgereik. Die mielie-oes dui op ’n verwagting van 16,178 miljoen ton.

Dit is 2,38% of 376 250 ton meer as die vorige skatting van 15,802 miljoen ton. Die verwagte opbrengs van mielies is 6,23 ton per hektaar.

Die geskatte mielie-oes is 25,9% of 3,328 miljoen ton meer as in 2024. Die drie belangrikste mielieproduserende provinsies die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes gaan na verwagting 82% van die 2025-oes produseer.

Die produksieskatting van witmielies is verhoog met 3,05% of 246 300 ton, vanaf 8,081 miljoen ton tot 8,328 miljoen ton. Die oppervlakteskatting van witmielies is 1,600 miljoen hektaar en die verwagte opbrengs is 5,21 ton per hektaar.

Koring sal moontlik 9 150 ton minder wees as die vorige skatting . Foto: Pexel 

In die geval van geelmielies is die produksieskatting 7,851 miljoen ton wat 1,68% of 129 950 ton meer is as die 7,721 miljoen ton van die vorige skatting. 

Die oppervlakteskatting vir geelmielies is 997 000 hektaar en die opbrengs is 7,87 ton per hektaar. Die hoofrede vir die styging in die produksieskatting vir wit -en geelmielies is vanweë hoër produsentlewerings soos gerapporteer deur Sagis.

Koring se verwagte produksie is 2,034 mijoen ton, wat 0.45% of 9 150 ton minder is as die vorige maand se skatting van 2,044 miljoen ton. Die verwagte opbrengs is 3,93 ton per hektaar.

‘Sonneblomsaad is onveranderd op 708 300 ton’

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd op 708 300 ton.  Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 555 700 hektaar, terwyl die verwagte opbrengs 1,27 ton per hektaar is.

Die produksieskatting van sojabone en grondbone is albei onveranderd met sojabone op 2,753 miljoen ton en grondbone op 61 389 ton. Die produksieskatting van sorghum is 144 665 ton, wat 4,85% of 6 695 ton meer is as die vorige skatting van 137 970 ton.

In die geval van droëbone is die produksieskatting verhoog met 4,80% of 5 150 ton, van 86 407 ton na 90 556 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 45 620 hektaar met ’n verwagte opbrengs van 1,99 ton per hektaar.

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.