On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Veediefstal: ‘Borgtog móét teengestaan word’

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 07 Oct 2025

Veediefstal: ‘Borgtog móét teengestaan word’ | News Article
Borgaansoeke in veediefstal moet teengestaan word Foto: Pexel.com

Sindikate neem die voortou in misdaad. Daarom is dit belangrik dat borgtogaansoeke veral in die geval van veediefstal teengestaan word.

’n Pleidooi is op Vrystaat Landbou (VL) se kongres gerig oor die belangrikheid daarvan om borgtog teen te staan wat misdaad op die platteland betref, veral in geval van veediefstal. In meer as 80% van die sake waar dit teengestaan is, in samewerking met die polisie, was die saak suksesvol.

“Strafverswarende getuienis is absoluut belangrik, omdat daar meer verliese is as net die (sê nou maar) vyf skape wat gesteel word,” sê Isabel Kruger, VL se veiligheidsverteenwoordiger en spesialis op die gebied van veediefstal.

Die boer kan dit self teenstaan. “Van VL se kant getuig ons strafverswarend, wat dan meer kyk na die statistiek vir daardie gebied en tydperk waarin die misdryf plaasgevind het. In hierdie geval is die NVG baie prominent by die opleiding van staatsaanklaers by veediefstal en fokus hulle pertinent hierop.”

 As slagoffer van die misdaad kan daar ook ’n eis teen die misdadiger ingestel word. Die slagoffer is die persoon wat die skade gely het. Dit kan morele of fisieke skade aan eiendom wees en in die geval van veediefstal, sluit dit die vee in.

Slagoffergeregtigheid is ’n belangrike deel van die strafreg, wat toegespits is op die regte en beskerming van misdaadslagoffers. Terwyl die strafreg tradisioneel daarop ingestel was om oortreders te straf, gee slagoffergeregtigheid aan slagoffers ’n belangrike stem, sê Kruger.

Die reg om gehoor te word ten tyde van die vonnisverhoor is belangrik, veral die getuienis oor die emosionele uitwerking op ’n landbouer en vee-eienaar. “Die aanklaer sal die feite van elke saak oorweeg, maar as slagoffer het jy ook die reg om te kla as jy voel jou regte word nie beskerm nie.

“Die aanklaer kan besluit dat daar voldoende bewyse vir vervolging is en voortgaan daarmee. Hy of sy kan ook besluit dat meer inligting benodig word of om die klag terug te trek. Die slagoffer het ook ’n reg op vergoeding vir emosionele en materiële skade.”

Slagoffergeregtigheid is ’n belangrike deel van die strafreg en fokus op die slagoffer. Foto: Pexel.com

’n Skadevergoedingseis kan deur die slagoffer ingestel word; die belangrikste is om die getuienis te lewe ná skuldigbevinding en voor die vonnis. Ná die uitspraak kan die slagoffer nie meer eis nie, maar dit net siviel verder voer.

In gevalle van veediefstal gaan dit nie net oor die dier wat gesteel is nie, maar ook die genetika en aanteling wat sou plaasvind.

Hoe groter die verlies van die veediefstal is, hoe minder is die boer se toekomstige inkomste en dit mag ook moontlik afleggings vir sy personeel beteken. Vervoerkoste in die geval van vee wat teruggekry word ná diefstal kan ook teruggeëis word, sowel as veeartskoste. Die NVG neem alle koste in ag tydens die vonnisoplegging.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.