Agriculture
SA Stamboek lei Afrika in gevorderde DNS-tegnologie─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 08 Oct 2025

SA Stamboek het onlangs dubbele sertifisering as ’n leier in die genetiese analise van vee ontvang. Dit word beskou as ’n bewys van Suid-Afrika se wetenskaplike bevoegdheid.
SA Stamboek het onlangs dubbele sertifisering as ’n leier in die genetiese analise van vee ontvang. Die historiese International Committee for Animal Recording (ICAR)-sertifisering plaas SA Stamboek op die wêreldverhoog wat gevorderde DNS-tegnologie betref.
Deur gebruik te maak van hoëdigtheid SNP-genotipering (15 000-25 000 genetiese merkers) kan SA Stamboek nou ingewikkelde ouerskapsituasies in vee met presiese akkuraatheid oplos.
“Hierdie sertifisering is meer as net ’n toekenning, dit is ’n verantwoordelikheid om Afrika te lei in die bevordering van veegenetika,” sê dr. Bobbie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek.
Die voordele van die tegnologie sluit in dat komplekse ouerskap baie akkuraat bepaal kan word – veral in kuddes met nouverwante bulle – en die versterking van genetiese integriteit wat noodsaaklik is vir teelprogramme en die verbetering van nasionale kuddes.
Dr. Bobbie van der Westhuizen, hoofbestuurder SA Stamboek. Foto verskaf
SA Stamboek kan nou internasionaal meeding en Suid-Afrikaanse telers het nou toegang tot wêreldklas-verifiëringshulpmiddels. ”Dit is ’n belangrike mylpaal vir Afrika se veebedryf en ’n kragtige bewys van Suid-Afrika se wetenskaplike bevoegdheid,” het Van der Westhuizen gesê.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs