Agriculture
Biosekerheid: Kommentaar gevra op plantgesondheidsregulasies─── ISABEL VAN TONDER 12:07 Tue, 07 Oct 2025

Die minister van landbou nooi alle belanghebbende instellings, organisasies en individue uit om voor 25 Oktober geskrewe insette en kommentaar te lewer op nuwe konsep-plantgesondheidsregulasies.
Die plantgesondheidsregulasies is deel van die Plantgesondheidswet (wet 35 van 2024), soos gepubliseer in die Staatskoerant. Die wet maak voorsiening vir die regulering van die beweging van plante, plantprodukte en ander gereguleerde artikels binne en buite Suid-Afrika.
Die wet is op 10 Desember 2024 bekragtig, maar is nog nie afgekondig nie in afwagting op die goedkeuring van die regulasies.
John Steenhuisen, minister van landbou, sê dit is gepas dat daar wyd oor die nuwe regulasies geraadpleeg word en dat openbare insette en kommentaar verkry word om die regulasies te kan finaliseer. Die doel van die regulasies is om die plantbiosekerheidstelsel van die land te verbeter en te versterk.
Kommentaar op die plantgesondheidsregulasies word verwelkom. Foto: Pexel.com
Die konsepregulasies sluit in:
- konsep-beheermaatreëls wat die beweging van besmette plantmateriaal vanaf besmette gebiede na onbesmette gebiede verbied;
- uitvoerbeheer wat betref besendings wat aan die invoervereistes van die invoerlande voldoen;
- die voorkoming van die invoer, vestiging en verspreiding van gereguleerde plae in die land; en
- die invoer van gereguleerde artikels sonder invoerpermitte, onderhewig aan invoervereistes.
Insette en kommentaar kan binne 30 dae van die publikasiedatum, 26 September, ingedien word. Dit moes dus teen 25 Oktober ingedien wees.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.